Ben Fourie

“Toe noem Abraham die plek: ‘Die Here voorsien’ “.Genesis 22:14 (Lees Genesis 22:1-19)

Die gedeelte oor Abraham wat sy seun Isak moes gaan offer as toets van sy geloof, is een van die heel moeilikste verstaanbare dele in die Bybel. Die gebeure gaan in teen die grein van hoe God hom tot op hierdie punt geopenbaar het. Kinderoffers was weliswaar nie vreemd by die inwoners van die land, die Kanaäniete, wat afgode aanbid het nie, maar God roep tog spesiaal vir Abraham uit Ur van die Galdeërs om die stamvader te word van ’n volk wat die enigste ware God kon aanbid. Hierdie volk sou juis wegdoen met die onmenslike rituele wat deel was van afgodsdiens.

Om egter vas te val in ’n debat oor hoe dit moontlik is dat God ’n mens aan so ’n ondenkbare streng toets kan onderwerp, is om die belangrikste moment van die hele verhaal mis te kyk. ’n Mens kan immers nie vir God en sy planne bevraagteken nie, maar ’n mens kan vrede vind in Jahwe Jireh, God wat voorsien. Voorsien is hier nie dieselfde as die ontvang van seëninge byvoorbeeld ons daaglikse brood nie, maar iets op ’n veel dieper vlak. Sommige vertalers vertaal dit in hierdie konteks met verkies of verskyn. God voorsien in wat op daardie oomblik Abraham se diepste begeerte is, naamlik ’n plaasvervanger offer om Isak se plek op die altaar te neem. Hy is God wat “verskyn” of anders gestel, God wat ingryp wanneer die nood op sy hoogste is.

Die gebeure speel meer as ’n duisend jaar voor Christus se koms na die aarde af en tog is daar ’n parallel te sien. Jesus as kruisoffer in ons plek is ook hoe God ingryp en voorsien in die mens se grootste behoefte; ’n plaasvervangende offer vir ons sonde.

Gebed: Soos Abraham van ouds kan ons nie genoeg dankie sê vir u voorsienende liefde nie. Amen