Louise Gevers

Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.  Hosea 2:13-14

God se hart smag daarna vir sy kinders om in 'n intieme verbondsverhouding met Hom te wees waar hulle persoonlik kan ondervind dat Hy "geheel en al die lieflikheid self (is)" en weet dat "dit is my beminde en dit is my vriend … (Hooglied 5:16 1933/1953-vertaling) Met al die pragtige kwaliteite van die liefde wat inherent aan Hom is, het die Here ons onwrikbaar lief en verlang die beste vir elkeen van ons. In ruil vra Hy dat ons Hom heelhartig sal liefhê en volkome toegewyd sal wees.

Maar Israel het dikwels God se liefde en goedheid vir hulle vergeet en het heidense afgode aanbid. Hulle liefde vir die Here het koud geword. Die Here het hulle egter steeds getrou lief gehad en wou hulle aanmoedig om na Hom toe terug te kom, selfs nadat hulle sy Gebooie verbreek het.

Deur Hosea se gebroke huwelik as voorbeeld te gebruik, het die Here simbolies Israel se verhouding met Hom en die diepte van sy liefde vir hulle en sy gewilligheid om sy verbond met Israel te herstel, geїlustreer. Hy wou Israel in staat stel om te besef dat dit wat God Hosea beveel het om met Gomer, sy vrou, te doen, Hy ook vir Israel wou doen. God het Hosea beveel om sy ontroue vrou terug te koop en dit simboliseer sy gewilligheid om Israel te verlos, en dit beklemtoon sy onvoorwaardelike liefde vir hulle.

Hy het ook die Arkonlaagte ter illustrasie gebruik, 'n plek waar mense voorheen veroordeel is en waar tragedies afgespeel het – die plek waar Agan en sy gesin gestraf is vir sy sonde. (Josua 7). Dit het Hy gedoen om sy verlossende krag te illustreer. Ontrouheid aan God het Israel in 'n vallei van vernietiging laat beland waar hulle op veroordeling gewag het, maar die Here wou dat hulle besef dat as hulle na Hom terugkeer Hy oor die krag beskik om hulle sondige situasie in "'n deur van hoop" te verander en dat Hy genade beloof en die seëninge wat vreugde bring, weer kon herstel. Hy is die God van die onmoontlike (Genesis 18:14, Markus 10:27) by wie verlossing uit alle situasies altyd moontlik is – die belydenis van sonde bring altyd hoop.

Onselfsugtige toewyding, deernis om te vergewe en te verlos het hulle oorsprong in God. Wanneer dinge verkeerd gaan, inspireer ware liefde die verlossing van die gebrokenes en diegene wat verlore is, en word hulle nuut gemaak ongeag die koste. Hierdie liefde wat geȉllustreer word deur God se gewilligheid om die ontroue Israel na te jaag, daag ons uit op die hoogste vlak en plaas 'n bloudruk van onvoorwaardelike liefde voor ons. Die Here alleen kan 'n plek van skaamte verander in 'n deur van hoop want sy "genade is vir jou (almal wat die allerlaagste punt bereik het) genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Korintiërs 12:9)

Gebed: Here ons is so dikwels ontrou aan U en ons vervang ons liefde vir U met dinge wat ons verlei om die waarheid vir bedrog te verruil. Soms besef ons dit slegs wanneer dinge verkeerd gaan in ons lewens. Help my om na my eerste liefde vir U terug te keer sodat ek nuut gemaak kan word. Amen