Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 13 Oktober 2011

Het jy al van die vyfde evangelie gehoor?

Neville Turley

John 21:25

Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.

Ons kennis van die persoon en leringe van Jesus is hoofsaaklik te danke aan die werk van die vier Evangelie-skrywers, Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Sonder hulle sou ons maar 'n geringe kennis van Jesus se lewe hier op aarde gehad het.

Nie een van die skrywers van die Evangelies het egter probeer om 'n volledige dokument oor alles wat Jesus gedoen het, op te stel nie. In ons teksvers verduidelik Johannes dat dit 'n onmoontlike taak sou wees.

In plaas daarvan het hulle Jesus so uitgebeeld dat diegene wat dit lees of hoor, self kan besluit om die goeie nuus oor Jesus Christus te aanvaar en Hom in hulle lewens toe te laat. Dit was ook die geval met gelowiges wat gelukkig genoeg was om, gedurende sy lewe hier op aarde, persoonlike kontak met Jesus te maak.

Hulle het gehoor, aanvaar en die goeie nuus van die Messias met almal met wie hulle in kontak gekom het, gedeel. Dit was nie net die geval terwyl Christus hier op aarde was nie, maar deur al die eeue daarna en vandag nog is dit die manier hoe sy Kerk steeds groei.

Elke keer wanneer iemand op die evangelieboodskap reageer en Jesus aanvaar, word daar begin met die maak van 'n vyfde evangelie. Deur die krag van die Heilige Gees word hierdie gelowige 'n vyfde evangelie wat, waar hy of sy ook al is, die goeie nuus van Jesus Christus met ander kan deel.

Ons, (ek en jy) as gelowiges, is die vyfde evangelie vir hierdie geslag. Die uitdaging vir elkeen van ons is om, deur ons lewens en getuienis, die goeie nuus dat God sy enigste Seun, Jesus Christus, gestuur het om deur sy dood aan 'n bloedbevlekte kruis sondaars met Hom te versoen, met ander te deel. Dit is hoe Jesus sy liggaam op aarde, die Kerk, laat groei en ek en jy het die voorreg om deel hiervan te wees.

Gebed:  Hemelse Vader, skenk aan ons die wysheid en genade om deur ons lewens en getuienis die evangelie met ander te deel. Amen

Previous article: Vers n dag - 14 Oktober 2011 Prev Next article: Vers n dag - 12 Oktober 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.