Louise Gevers

Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”  Lukas 19:9-10

Wat sou jy doen as jy so kort was dat jy nie oor die koppe van die ander mense in die skare kon sien nie, veral as daar iets skouspelagtigs aan die gebeur was?

As kind was ek gefassineer deur die verhaal van die volwasse Saggeus wat so kort was dat hy in 'n boom moes klim om Jesus te kon sien. Ek was kort en lief om boom te klim en dit het dus baie sin gemaak. Ek was ook gefassineer (en baie bly) dat Jesus na Saggeus se huis toe wou gaan en ek het gewonder of Jesus gekies het om dit te doen omdat Hy Saggeus in die boom beter kon sien as al die ander mense op die grond.

Wat dink jy?

Saggeus was 'n man met 'n missie. Berigte oor die charismatiese Meester en sy wonderwerke het hom bereik. Hy het geweet dat hy Hom moet sien want hy het antwoorde gesoek, maar die skare langs die pad en die wat Jesus omring het, het dit vir Saggeus moeilik gemaak. As hooftollenaar het die mense hom boonop verag, maar in hierdie belangrike tyd kon hy hom nie aan hulle reaksie steur nie. Hy wou Jesus ten alle koste sien, en hy het nie omgegee of die manier wat hy gebruik het om dit reg te kry, tot 'n spottery aanleiding sou gee nie.

Jesus het hom nie teleurgestel nie. Nie net het hy Saggeus raakgesien nie, maar Hy het op 'n onverwagte manier uitgereik na die volwasse man in die wildevyeboom. Op 'n vriendelike manier, vol genade sê Jesus vir die korrupte, ongewilde man: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Jesus sê dit te midde van die protesterende skare wat Saggeus as 'n "sondaar" beskou, maar Jesus het 'n goddelike afspraak met elke sondaar.

Jesus se afspraak met Saggeus het onmiddellik sy hart en houding verander. Die jare wat hy verkeerde dinge gedoen het, het verdwyn en met groot blydskap beloof hy om die helfte van sy besittings aan die armes te gee en waar hy iets van iemand afgepers het, dit vierdubbel terug te gee. Dit is die ware verlossing wat almal nodig het.

Slegs deur sy liefde en aanvaarding verander Jesus dit wat ons nie in onsself kan verander nie: die 'Saggeuse' in die samelewing sowel as die 'goeie' skare. Niemand is 'te sleg' of 'te goed' vir Jesus om te verlos nie. Daar is nie lang mense in Jesus se teenwoordigheid nie – ons is almal kort – maar 'n ware ondervinding van sy verlossingskrag wag op diegene wat in die boom klim.

Gebed: Here, dankie vir die wonderlikste woorde wat elke sondaar kan hoor: Vandag is jou sonde vergewe. Dankie vir u genade wat lewens verander. Amen