Louise Gevers

Dit is waarom elke gelowige in 'n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. U is vir my 'n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing. Sela Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.  Psalm 32:6-8

Een Saterdagoggend, toe ek besef dat ons brood en melk benodig, het ek besluit om vroeg uit te gaan om te gaan koop sodat ons 'n ontspanne dag tuis kon deurbring. Hoe min het ek toe geweet! Ongeveer twee kilometers van ons huis af, toe ek oor 'n kruising ry het 'n motor soortgelyk in grootte as myne, teen 'n hoë spoed met my gebots. My motor het rondgespin en op sy sy te lande gekom, terwyl die ander motor op sy dak geland het. Ek het na alle kante gekyk voordat ek die kruising binnegegaan het, en hierdie ander motor was nêrens te siene nie. Van die oomblik van die botsing het dit gevoel asof tyd gaan stilstaan. Ek was kalm en nie beseer nie, maar my verstand het nie geweet hoe om hierdie nuwe ondervinding te verwerk nie.

Ons weet nooit wat elke nuwe dag inhou nie, maar as ons, soos Daniël en sy vriende, weet Wie in beheer van die dag is, sal ons altyd goed voorbereid wees en van die oomblik wat ons wakker word, weet dat Hy ons elke dag in sy hand hou. Alhoewel hulle in ballingskap en in diens van die koning van Babel was, het Daniël en sy vriende toegewyd in alle omstandighede die Koning van almal en alles aanbid. Ons is ook in ons wêreld "in ballingskap" en ons omstandighede verlang dieselfde toewyding.

Toe Daniël een oggend wakker word, het hy nie geweet dat 'n leeukuil vol leeus op hom wag nie. Hy het wel geweet dat om sy probleme na God in gebed te neem 'n risiko inhou aangesien 'n dekreet uitgevaardig is wat almal verbied om enige god behalwe die koning te aanbid. Maar Daniël het God meer vertrou as wat hy die dekreet gevrees het.

Jaloesie op Daniël se uitstekende karakter en hoë posisie, het daartoe gelei dat die regeringsamptenare teen hom saamgesweer het om Koning Darius te kry om hom wettig ter dood te veroordeel. Daniël het egter nie toegelaat dat dit hom afskrik of sy roetine om drie keer 'n dag te kniel om te bid en God te dank, verander nie, en hy is gevang.

Die koning het baie sleg gevoel oor wat hy moes goedkeur en toe Daniël in die leeukuil gegooi is, het hy gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.” (Daniël 6:16) Die volgende dag was hy egter baie bly toe Daniël vir hom sê: "My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie … Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het." (Daniël 6:23-24)

Daniël se voorbeeld kan ons net inspireer om ons Koning te dien, en sy getrouheid in gebed kan die fondament wees wat ons benodig om 'n verhouding met Hom te bou.

Gebed: Here, gee dat ons altyd getrou in ons gebedslewe sal wees, dat ons verhouding met U sal groei en dat ons U al die dae van ons lewe op aarde, getrou sal dien. Amen