Louise Gevers

 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide. Psalm 107:1-3

Ons eindig ons 'verlossingsverhaal'-tema met dieselfde vers waarmee ons begin het. Die afgelope maand het ons die verlossende krag van God in die lewens van sy kinders – wat ons insluit – in verskillende situasies en plekke ondersoek en daaroor gereflekteer en ons kan nou die psalmdigter se woorde bevestig: "…Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie …" Hy is die Een wat ons red en ons uiteindelik huis toe sal bring.

Repatriasie het 'n gonswoord in die nuus geword en 'huis toe gaan' het 'n nuwe vlak van betekenis gekry vir mense wat uitsien om, te midde van die pandemie, terug te keer na hulle land om die virus te beveg tussen mense wat hulle ken en liefhet, in die gemak van die bekende met die wêreld wat 'n vreemde, skrikwekkende plek geword het. Die terugkeer huis toe mag 'n lang, ingewikkelde reis in beknopte toestande insluit, maar om die bestemming te bereik, maak alles die moeite werd want dit is die 'huis'.

Hoeveel te meer moes die Israeliete in ballingskap nie hierdie gevoel beleef het nie. Hulle grootste hoop en verlange oor baie jare was om na hulle eie land terug te keer. Hulle blydskap was groot toe die Here hulle uiteindelik na hulle land laat terugkeer het. Hy het hulle teruggebring van die land waar hulle was "uit die ooste en die weste, die noorde en die suide" het Hy hulle versamel, hulle van hulle lyding gered om na hulle eie geloof en mense terug te keer.

Alle mense is verwyder van God, in ballingskap, in die vreemde land van sonde, maar om na Hom terug te keer en vergifnis in Jesus Christus te ontvang, bring verlossing. Jesaja beskryf hierdie uiterste blydskap van die verlostes wat huis toe kom as 'n sierlike kroon wat al helderder word wanneer hulle smart verdwyn soos die blydskap oor hulle terugkeer toeneem.

Verloste mense weet dat hulle geliefd is en dat hulle gekoop is teen 'n prys wat niemand anders kon betaal nie – dit bring blydskap wat vir ewig duur! Hulle het 'n doel hier op aarde en 'n doel wat in die hemel op hulle wag. Dit is die verloop van 'n ryklik geseënde lewe want dit is dubbeld deur Jesus Christus, ons Verlosser, geseën, en daar is nie langer plek vir hartseer nie. Verlossing gaan oor blydskap wat vir ewig duur.

Jesaja sê: "Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees, ellende en smart sal verdwyn." (Jesaja 51:11)

Huis is waar die hart is, en vir die gelowige, is huis met God, nou en vir ewig. As Hy ons verlos het, het ons 'n storie om te vertel sodat ander ook hulle ware huis kan vind. Sal jy jou storie vandag met ander deel?

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u groot geseknk van verlossing deur Jesus Christus, wat vir ons groot blydskap hier op aarde bring en selfs groter blydskap in die hemel. Gee dat u Woord in ons harte sal groei en dat ons deur die krag van die Heilige Gees  ons verlossingsverhaal met ander sal deel. Ons bid dit in u Naam en tot u eer. Amen