Xanthe Hancox

Waarlik, die behoeftiges word nie vir altyd vergeet nie, nie vir ewig sal die verwagting van dié wat in nood is, vrugteloos wees nie. Psalm 9:19

Psalm 9 is 'n dankpsalm. In die eerste gedeelte word God se wonderlike bevrydingsdade van die verlede erken en in hierdie finale gedeelte word daar gevra vir God se volgehoue beskerming en voorsiening in die toekoms. In vers 19 vertroos Dawid diegene wat op God vertrou deur hulle daaraan te herinner dat die armes nie vergeet word nie.

In die Nuwe Testament sien ons weer dat die Here 'n teer hart vir die armes het. In Jakobus 1:9 lees ons: "'n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het" (Jakobus 1:9). Dit klink vreemd om dit aan mense wat ly te sê.

Diegene wat armoede en beproewings ondervind, kan gelukkig wees want in die lewe wat kom, in die hemel, sal hulle 'n veel groter beloning ontvang aangesien hulle reeds in hierdie lewe swaarkry beleef het. (Jakobus 1:12) Ons God is 'n regverdige God en Hy bring hoop aan diegene wat in armoede leef.

Per slot van rekening is Jesus in 'n vuil, donker stal vir ons gebore. Hy het van die grootste rykdom en krag gekom en arm geword vir ons hier op aarde, sodat Hy ons van ons sonde kon verlos. (2 Korintiërs 8:9) Aangesien Jesus vir ons sonde gesterf en ons verlos het, het Hy ons ryker gemaak as wat ons ooit kon hoop om te wees. Dit beteken nie noodwendig dat ons baie geld het nie, maar ons is ryker op 'n manier wat nooit van ons weggeneem kan word nie.

Of jy nou in nederige omstandighede of in weelde leef, skep moed. Want of jy nou ryk of arm is, as jy tot eer van die Here leef, wag daar 'n regverdige beloning op jou in die hemel.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika stel op 'n verantwoordelike manier Bybels beskikbaar aan diegene wat dit nie kan bekostig nie. Lees gerus meer oor die Bybels vir die armes-projek hier.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nie u oë sluit vir al die probleme wat ek, my gemeenskap en mense regoor die wêreld ondervind nie. Ek dank U ook dat die armes nie vir ewig vergeet sal word nie, maar dat U iets veel beter voorberei het vir diegene wat U liefhet en vertrou. Amen