Ben Fourie

“Dan sal Ek julle aanneem en Ek sal vir julle ’n Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here die Almagtige.” 2 Korintiërs 6:17c-18

Die idee van God as Vader word meesal gesien as uitsluitlik ’n Nuwe Testament idee, maar dit is nie so nie. Alhoewel die Ou Testament nie baie oor Hom as Vader praat nie, is daar wel belangrike verwysings daarna soos byvoorbeeld Jeremia 31:9b waar ons lees: “Ek sal hulle by waterstrome bring, op ’n gelyk pad, niemand sal struikel nie, want ek het Israel se Vader geword, Efraim is my eersgeborene” of so ver terug soos Deuteronomium 32:6 “Is die Here nie jou Vader, jou Skepper nie?” en nog enkele ander plekke.

Die vers uit 1 Korintiërs hier bo wat ons vers van die dag is, is ook ’n aanhaling uit die Ou Testament wat Paulus hier op alle gelowiges toepas. In die volgende vers sê hy: ”Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons”, bedoelende dat God ook ons Vader sal wees en ons ook sy seuns en dogters.

In al die Ou Testament gedeeltes, asook hier in Korintiërs en ander plekke in die Nuwe Testament is die kerngedagte dat God die Vader is en ons sy kinders. Hier word dus ’n spesiale verhouding tot stand gebring. God is nie ’n afwesige en onbereikbare God nie, hy word ’n Vader vir ons elkeen.

In die teks uit Jeremia word dit pragtig gestel wanneer God vir Efraim/Israel sy eersgeborene noem. In die Bybelse tyd was die rol van die eersgeborene baie belangrik. Soos ons uit die verhaal van Esau en Jakob sien is die baie spesiale seën van die vader aan die eersgeborene gegee, daarom ook die begrip van eersgeboortereg. Die eersgeborene het gewoonlik ook eerste in die ry gestaan wanneer die erfporsie verdeel is. Ons kry die gebruik selfs vandag nog by baie gemeenskappe.

As ons die lyne deurtrek kan ons sê dat ons nie net kinders van God is nie, maar dat ons elkeen ook eersgeborenes is. Ons staan elkeen dus heel voor in die tou wanneer die Vader sy erfporsie van liefde en genade uitdeel. Ons is elkeen op grond van wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het ook geregtig op ons spesiale eersgeboortereg, die reg tot verlossing van die sonde.

Gebed: Baie dankie dat U nie ‘n afwesige en onbereikbare God is nie, maar in alle opsigte my hemelse Vader is wat my baie liefhet. Amen