Vers n dag - 12 Desember 2011
Hoop as ʼn geskenk van God
Hennie Symington
Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser. Titus 1:1b-3
Hoop teen alle hoop in
Om vas te hou aan die hoop op ʼn beter wêreld wanneer hoop se “laaste spore in wanhoop my ontgaan” het, lyk na ʼn hopelose taak. Wanneer dit duidelik word dat die mens alles verbrou het en op moedverloor se vlakte sit, wil dit lyk asof hoop die duiwel se laaste lag in plaas van ʼn geskenk van God is.
Tog lees ons in die Woord die hoop beskaam nie. Hoe moet ons dan hoop? Hoop is nooit passief nie. Hoop is handeling in die geloof op ʼn belofte wat sal waar word, miskien nie in jou leeftyd nie maar wanneer die tyd ryp geword het.
Hoop is weerstand
Dit is ʼn aktiewe weerstand teen hopeloosheid en uitsigloosheid. Dit beteken nie om gelate te aanvaar dat daar geen einde aan ellende is nie maar om aktief mee te werk om ʼn menswaardige lewe vir almal na te streef, selfs al is die hoop skraal.
Hoop is ʼn waagstuk
Almal het gedink Abram soek vir moeilikheid toe hy sonder huisgode en buite die beskerming van die plaaslike gode die wildernis in trek. Maar om hoop te laat vaar is om mee te doen aan wanhoop. Dit is om jou deelname aan die herskepping van die aarde prys te gee en gelate te sê: Dis hoe dit is. Ek sien geen uitkoms nie. Ek sien geen moontlikheid op verandering nie.
Hoop is ʼn aktiewe deelname aan die wêreld
Ons deelname aan die wêreld gee uitdrukking aan dit waarop ons hoop. As dit geregtigheid en ʼn kans op lewe vir almal is, is dit waarvoor ons ons beywer. Om te hoop op verligting van armoede en ellende beteken om jou moue op te rol en alles in jou vermoë te doen om daardie hoop waar te maak. Om hoop waar te maak is om ʼn appelboom te plant soos Martin Luther, selfs as jy geweet het jy sou die volgende dag sterf.
God het ʼn plan vir ons hopeloosheid: Hy sê in Jeremia: Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting! Jeremia 29:11.
Gebed: Here, om te sit en wag vir dinge om te gebeur, is die grootste daad van wanhoop wat ʼn mens kan pleeg. Help my aktief te wees terwyl ek wag.