Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoe om jou skuld voor die Here te bely - 28 Julie 2021

Ewald Schmidt 

“Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.”  Psalm 51:12-14, 1983-vertaling
 
Dawid het Psalm 51 geskryf as skuldbelydenis nadat Natan vir hom sy sonde met Batseba uitgewys het. Lees die hele Psalm! Ons word soms van sonde bewus gemaak in ons lewe, deur die Woord, die Gees, of 'n vriend. Hoe bely ek my sonde? Ons leer by Dawid hoe om reg te maak.
 
1.    Vertrou op God se genade en liefde (Psalm 51:3) Die Here is jou hemelse Vader wat vir jou baie lief is. Hy begeer om in die regte verhouding met jou te lewe. Hy wil vergewe en heel maak. Kom na Hom toe met jou gebroke lewe.
2.    Vra die Here om jou skoon te was van jou oortreding (Psalm 51:4). Ons verstaan dit beter wanneer ons Jesus as Here ken – Hy het ons skoon kom was deur die bloed aan die kruis. Die prys is klaar betaal, kom haal die vryspraak by die Here.
3.    Erken dit wat jy verkeerd gedoen het, dat dit sonde teen God was (Psalm 51:6).
4.    Vra die Here om jou te lei om Hom in opregtheid te dien (Psalm 51:8).
5.    Vra Hom om die sonde weg te neem, sodat jy witter as sneeu kan wees voor Hom (Psalm 51:9)
6.    Vra die Here om jou persoonlik te herstel in die verhouding met Hom. Dan kan blydskap terugkeer, en jy die Here weer met toewyding dien (Psalm 51:12-14).
7.    Vra herstel in die gemeenskap van gelowiges. Dawid vra in Psalm 51:20 dat Sion weer die Here se goedheid en liefde sal ervaar. Dawid was die koning, sy verkeerde optrede het gevolge gehad vir sy nasie. Hier bid hy dat die Here herstel sal bring waar sy optrede skade gemaak het.
8.    Getuig van die Here se redding en verlossing (Psalm 51:17)
 
Mag die Here ons elkeen help om met rein harte voor Hom te lewe! Sonde se gevolge is baie ernstig, maar God se genade is groter as die ergste ding wat ek ooit gedoen het.
 
Gebed: Here, U ken my. U weet dat ek maar sukkel om altyd die regte ding te sê of te doen. Maar dankie vir u genade. Dankie dat Jesus vir my skuld betaal het. Daarom bid ek saam met Dawid – kom verander my, Here. Gee vir my 'n rein hart, en leer my om met opregtheid saam met U my lewenspad te bewandel. Dankie dat U my vergewe, help my om reg te maak waar ek verbrou het. Amen.
 
Previous article: Die Here maak my lewe 'n fees! - 29 Julie 2021 Prev Next article: Die Here sien alles raak, loop die regte pad! - 27 Julie 2021 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.