Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Onwaarskynlike helde - 2 Augustus 2021

Xanthe Hancox 

En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – hulle wat deur geloof koninkryke verower het, wat gedoen het wat reg is, wat beloftes verkry het, wat die bekke van leeus toegestop het, wat die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug het, wat krag ontvang het in hulle swakheid, wat magtig geword het in oorlogvoering, wat slagordes van vreemdes afgeweer het. Hebreërs 11:32-34, 2020-vertaling
 
Hierdie paragraaf, amper aan die einde van Hebreërs 11, kom na 'n lang lys name van gewone mense wat God vir 'n buitengewone doel gebruik het. Ek wil jou regtig aanmoedig om as jy vandag die tyd het, die volledige hoofstuk te lees.
 
Sommige van die name is baie bekend. Abraham, Josef en Sara word byvoorbeeld almal genoem. Ander, soos Barak en Jefta is miskien minder bekend, maar dit is almal name van gelowiges deur wie God gewerk het om sy beloftes te hou.
 
Hierdie maand gaan ons 'n ontdekkingsreis onderneem en sommige van die Bybel se geloofshelde beter leer ken. Hier reg aan die begin is dit nodig om te noem dat die skrywer elke persoon met die frase "deur geloof" voorstel.
 
Die skrywer van die Hebreërs boek doen dit om te verseker dat ons op God fokus en nie op die dade van enige individu nie. Baie van die mense wat hy identifiseer, is so bekend dat dit maklik is om eerder op daardie mense en hulle onvergeetlike woorde en dade te fokus.
 
Deur te begin met: "Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied … " (vers 17) wil die skrywer seker maak dat ons weet dit is nie mense nie, maar God wat groot is.
 
Deur geloof in God begin 'n avontuur vir gewone mense wat deur God toegerus word vir sy buitengewone doel. Kan ons onsself met hierdie tipe geloof vereenselwig? 'n Geloofsgevulde lewe loop oor van hoop en sekerheid. Hoop kyk vooruit na die vervulling van God se beloftes, en sekerheid spruit uit die veiligheid van God se liefde en trou. Deur geloof vertrou ons slegs op die enigste ware God.
 
Soos ons ontdekkingsreis hierdie maand vorder, sal ons sien dat hierdie verhale oor eeue strek. Elke verhaal daag ons uit om te besef dat 'n lewe deur geloof beskikbaar is vir almal wat vandag glo, hulle hoop op God vestig en sy roepstem in 'n onseker wêreld volg.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons uitnooi om deur geloof aan U te behoort. Gee dat ons hoop en sekerheid op U alleen gevestig sal wees. In Jesus se Naam bid ons dit. Amen
Previous article: Barak en Debora - 3 Augustus 2012 Prev Next article: Goedheid en liefde vir altyd - 30 Julie 2021 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.