Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 30 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 16: ’N NUWE BEGIN... MET ’n GROTER FOKUS OP WAT WERKLIK BELANGRIK IS

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Gestel jy blaai môreoggend deur die koerant en lees tot jou skok ’n berig wat lesers meedeel dat jy gisteraand gesterf het. Buiten vir die aanvanklike skok, sal jy trots wees op wat jy in die huldeblyk lees?

Bogenoemde mag absurd klink, maar dit is wat aan die begin van die 20ste eeu met Alfred gebeur het. In skok het hy ’n paar keer oor die opskrif van die huldeblyk gelees: “Die Plofstofkoning sterf.” Regdeur die artikel het die joernalis na hom as die “handelaar van die dood” verwys aangesien hy dinamiet ontwerp het wat tot die vervaardiging en verspreiding van verskeie ander gevaarlike wapens gelei het. Wat Alfred veral geskok het, was die besef dat die joernalis tog ’n punt beet gehad het. Maar wou hy as “die handelaar van die dood” bekend wees? Natuurlik nie.

In daardie oomblik het Alfred besef dat hy ’n tweede kans gekry het – een om sy toekomstige grafskrif (en huldeblyk in die koerant) te verander. Na baie gebede het hy in die daaropvolgende weke bewus geword van die helende krag van Jesus Christus terwyl daar in sy hart ’n behoefte ontstaan het om iets nuut te doen om ’n verskil in mense se lewens te maak.

Vir die res van Alfred Nobel se lewe, het hy sy tyd, energie en geld aan opheffingswerk en die bevordering van vrede tussen verskillende strydende groepe spandeer. Met sy dood (en tot vandag toe), word Alfred Nobel eerder onthou as die stigter van die Nobel Vredesprys as dat hy dinamiet ontdek het.

Ek vra weer, sal jy trots wees op die woorde op jou grafsteen as jy vandag sou sterf? Wat moet jy in jou lewe verander? Luister weer na die woorde in Openbaring 21:5: “Toe sê Hy (God) wat o die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’”

God spesialiseer in tweede kanse. Hy het immers vir Saulus, Paulus gemaak. Vir Simon, Petrus. En vir die prostituut Ragab, die vrou wat die Israelitiese spioene uit Jerigo gered het! Net soos Alfred Nobel het jy vandag ’n geleentheid om die bewoording van jou grafsteen (en huldeblyk in die koerant) te verander. Gaan jy die kans met beide hande aangryp? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat daar by U altyd tweede kanse is en dat U alles nuut maak. Lei my deur u Heilige Gees om daagliks voluit te leef en nooit my doel op aarde te mis nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 31 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 27 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.