Hoop en dankbaarheid: Omarm verandering - 24 Februarie 2022
Charlea Sieberhagen-Grey
“Ek weet wat Ek met julle wil doen. Ek wil hê dit moet goed gaan met julle in die jare wat sal kom, nie sleg nie. Julle moet kan hoop dat dit goed sal gaan met julle.”
Nie almal van ons is gemaklik met verandering nie. Party mense is gek daaroor en jaag dit na, of dit nou beteken hulle soek gedurig ’n nuwe, beter werk of hulle is elke drie weke lus om die TV-kamermuur ’n ander kleur te verf. Ander mense vind veiligheid in hul roetine en die gemak van die bekende.
As ek na my eie lewe tot dusver terugkyk, val ek meestal in laasgenoemde kategorie. Ek onthou hoe ek al keer op keer beangs was oor die verandering wat op my wag.
Eers was daar die traumatiese oorgang van laerskool na hoërskool; toe matriek na universiteit; toe verruil ek ná drie jaar een universiteit vir ’n ander; later was daar ’n paar werkveranderinge en ’n trek tussen twee stede en elke keer was dit maar eers ’n tranedal en talle vrae wat begin met “Wat as ...” en “Sê nou maar ...”
Vir my het verandering maar nog altyd ’n tikkie drama ingehou want ek was nog altyd skrikkerig dat ek nie die mas gaan opkom nie of dat die verandering vir my te moeilik gaan wees. Tot ek deur dit is. Dan het ek maar net weer aangepas en aangegaan en gewoond geraak.
Mense verskil en ons gaan nooit presies dieselfde op verandering reageer nie. Maar een ding is seker, ons gaan verandering nooit kan vryspring nie. Die lewe verander gedurig. Ons het die afgelope twee jaar met voortdurende verandering te doen gekry – eers moes baie mense plan maak om skielik vir maande aaneen van die huis af te werk en die afgelope paar maande begin al meer mense terugkeer kantoor toe.
Verandering is ook relatief. Wat vir my en jou ’n groot verandering is, is nie noodwendig vir iemand anders groot en drasties nie.
Hierdie jaar gaan beslis vir ons elkeen ’n mate van verandering inhou. Dalk is dit iets wat buite jou beheer is, maar dalk word jy gedwing om self ’n verandering te maak, gewoon omdat jy nie ’n ander keuse gaan hê nie.
Tog moet ons onthou dat verandering nie noodwendig sleg is nie. Dink maar net aan die voordele van goeie leefstylveranderinge. Verandering kan ook ons lewens verryk en ons laat groei. Dit kan beteken jy word gedwing om nuwe vaardighede aan te leer, of dit kan beteken jy doen nuwe lewenservaring op of ontmoet nuwe mense.
Wanneer ons vir God saamneem op ons reis met verandering, kan ons verhouding met Hom ook verdiep. Dit opsigself is al klaar ’n voorreg en geleentheid. Boonop gebruik Hy dikwels die verandering om nuwe en goeie dinge in ons lewens te bewerkstellig. Ons moet dit partykeer net raaksien.
Gebed: Here, help my die veranderinge wat vir my hierdie jaar voorlê te omarm en aan te gryp. Help my om nie bang te wees nie en help my ook om u hand daarin raak te sien. Amen.