Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die beste verdediging - 15 Maart 2022

Xanthe Hancox 

Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Sodat dit nie gebeur dat, as hy die fondament lê en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, met hom begin spot en sê, ‘Hierdie man het begin bou, maar kon nie klaarmaak nie.’Lukas 14:28-30, 2020-vertaling
 
Beide hierdie gelykenis en die daaropvolgende een (Lukas 14:31-33) wat oor 'n koning se oorlogsplanne handel, verwys na 'n verdedigingstrategie. Torings voorsien 'n plek van waar die wagte kan uitkyk en die mense betyds teen die aankomende vyand kan waarsku. Die koning kan dan sy troepe byeenbring en sy gebied verdedig.
 
'n Halfvoltooide gebou en 'n dwase geveg, is beide slegte idees. 'n Wyse persoon sal eers sy berekenings maak en die koste beraam van wat ook al gedoen moet word.
 
Jesus bied aan die krygers wat vir die koninkryk veg 'n verdedigingstaktiek om sukses te behaal in gevegte wat op hulle wag. Dié strategie is volkome toewyding aan deeglike voorbereiding.
 
Die lewe van 'n dissipel sluit baie gevegte en getrouheidstoetse in. By tye verloor ons moed en is gereed om op te gee. Maar Jesus openbaar die geheim van sukses – 'n volkome verbintenis tot die Woord van God.
 
Die herhaalde tema in hierdie teksverse is of jy in staat is om 'n taak uit te voer. Elkeen van ons moet vra: "Kan ek sy dissipel wees?" Dit is 'n ernstige vraag. Maar Christus het reeds die oorwinning behaal. Danksy Jesus kan ek en jy sê: "Ja, ek kan". "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." (Filippense 4:13) Dit verg 'n radikale geloof in die krag van Christus in ons om vas te staan en te volhard.
 
Gebed: Here, help my om die prys te bereken en my daartoe te verbind om U te dien. Skenk asseblief aan my die genade om die weg waarop U my geplaas het, te volg en om deur u krag te seëvier. Amen
Previous article: Onverwagte bestanddeel - 16 Maart 2022 Prev Next article: Sout en lig - 14 Maart 2022 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.