Fanie Richter 

Maar die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot. Jesaja 57:20, 1983-vertaling
 
Omstandighede en uitdagings laat ons baiekeer worstel en benoud word. Dit beset ons gedagtes en hoe langer ons worstel, hoe swakker word ons en hoe meer voel dit of ons beheer en uitsig verloor.
 
Maar herken die vyand daarin en wees gedag daarop – die bose wat oor die sondige wêreld heers, probeer om ons te laat misluk en om ons vrede en geluk te steel. Dit skep onstuimigheid en angs in ons binneste en besoedel ons met ‘slyk en modder’ (Jesaja 57:20), en probeer om ons fokus weg te lei van God se doel en plan met ons lewens.
 
Daarteenoor wil die Heilige Gees ons laat afsien van die bose se gemors, die effek van sonde, en ons fokus op die Here rig. “Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom” (Jesaja 58:8). Dan sal Hy ons altyddeur lei, “selfs in dor streke”, om te wees “soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie” en dat ons “die ou puinhope herbou, die fondamente herstel...” Dan sal ons die “afgebreekte mure herbou en strate herstel” sodat daar weer nuwe lewe kan wees (Jesaja 58:11-12).
 
Dan ontluik moontlikhede soos die water in Esegiël 47:1-12 wat dieper en wyer vloei en lewe, vrugte en genesing voortbring, “want die stroom se water kom uit die heiligdom.”
 
Gebed: Almagtige God en hemelse Vader, red my asseblief uit alle onstuimigheid en angs en laat u lig vir my deurbreek. Gaan asseblief voor my uit en laat u mag agter my aankom sodat daar in en deur my vrug en transformasie sal voortkom tot u verheerliking en seën waar U my wil gebruik. Amen