Fanie Richter 

“Ek, die Here, stuur ’n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reggemaak het.” Eksodus 23:20, 1983-vertaling
 
Ons leer God ken as die God op pad met sy mense. Hy openbaar homself ook sodanig. Ons kyk na enkele van vele voorbeelde wat in die Bybel verhaal word:
 
God roep ’n gewone mens, Abram, wat Hom moes gehoorsaam en vertrou vir ’n toekoms wat net moontlik was op grond van God se belofte van seën en teenwoordigheid. (Genesis 12:1-5,7)
 
God omskep die negatiewe gebeure met Josef om sy mense aan die lewe te hou en hulle later te laat trek na die land wat Hy met ’n eed aan hulle beloof het. (Genesis 45:5,7-8; 50:20,24)
 
Hy herhaal telkens sy plan en beloftes aan hulle deur Moses in die boek Deuteronomium, waarin Hy ook beskryf hoedanig Hy hulle sal lei en seën. Hy het selfs op die pad voor hulle vooruit gegaan om kampplekke vir hulle uit te soek. (Deuteronomium 1:33)
 
God herbevestig sy teenwoordigheid aan Josua (Josua 1:9) en verower Jerigo, konings se weermagte en landstreke vir sy volk. Hy stuur leiers, konings en profete om hulle te lei in sy wil, raad en vermanings – te veel om hier op te noem. Al wat gevra word is, “Eer nou die Here en aanbid Hom met volle oorgawe en met getrouheid ... en dien die Here.” (Josua 24:14)
 
Hy wil ons elkeen steeds lei en seën. Maar hoe eerbiedig en gehoorsaam is ons nog aan Hom?
 
Gebed: God van Abraham, Isak en Jakob, U is ook my God! Laat u Gees my gedrag bepaal en my lei in volle oorgawe aan U, met eerbied en getrouheid. In Jesus Christus, Amen.