Hoe dink ons voor ons bid? - 22 Augustus 2022
Fanie Richter
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie ... moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie. Spreuke 30:7-9, 1983-vertaling
Opvallend dink Agur realisties oor sy lewe vorentoe binne die Here se heerskappy – oor wat essensieel sal saak maak, binne sy vermoë saam met God. Spreuke 30:5-6a: “Elke belofthttps://biblesa.co.za/bible/AFR83/1PE.5/1-PETRUS-5e van God is betroubaar ... Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie.”
Hy vra as’t ware dat God hom teen homself moet beskerm sodat sy eie wil en gedagtes nie indruis teen God s’n nie.
Hy’s nie selfsugtig selfgefokus met ’n klomp dinge wat hy wil hê om ‘groot te gaan’ vir ’n hoë posisie of naam of eie genot nie (en dan maar weer soos baie mense daarin te ‘verdwaal’ en meeste daarvan verwaarloos of niks mee doen nie).
’n Vriend wat tans ’n groot en internasionaal erkende bediening het, moes eens by die Here hoor, “Verklein jou tent. Dink kleiner – aan ‘n haalbare en hanteerbare doelwit wat beter bestuur kan word.” Deur dit te gehoorsaam en goed te doen, groei die werk onder die Here se leiding en seën stelselmatig en beheerbaar, tot seën vir duisende mense.
Eintlik moet ons dink en bid oor wat die Skepper en Here van ons lewens met ons bedoel – dis waarin ons sin, vrede en vreugde wat alle verstand te bowe gaan, sal geniet. Petrus sê immers: “Onderwerp julle in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het ... want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:6-7)
Gebed: Here, U weet alles wat ek dink, begeer en mee worstel. Help my asseblief om U in wysheid te volg en die Godsvrug te dra wat U verlang, en dat ek dit sal geniet. In Jesus Christus se Naam. Amen