Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Kom tot die punt van God se wil - 25 Augustus 2022

Fanie Richter 

“Moenie dink Ek het gekom om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Matteus 5:17, 1983-vertaling
 
“Ek sê vir julle: ‘As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.’”
Matteus 5:20, 1983-vertaling
 
Wat is die eintlike beginsel agter die begrippe “geregtigheid” en die “hele wet” wat Jesus kom vervul het?
 
Jesus verwys hier met “die wet of die profete” na die essensie van wat God vir sy mense bedoel en van hulle verlang – waardeur Hy verheerlik word en hulle geseënd sal wees, en sy hart verbly word oor hulle – soos dit in die boeke van die profete verwoord word. Daarvolgens het die profete heeltyd probeer om Israel te begelei tot gehoorsaamheid en getrouheid in ooreenstemming met die doel van God se wil.
 
In Matteus 5, waarvolgens Jesus sy bergrede begin, praat hy aan die hand van voorbeelde oor ’n leefwyse waarmee hy die valse en ware interpretasie van die wet kontrasteer. Selfs baie van hoofstukke 6 en 7 weerspieël hierdie kontras.
 
Hy sê in Matteus 5:20 dat ons in die wêreld soos God dit bedoel, ten diepste eintlik nog strenger ooreenkomstig God se wil moet lewe as wat die Fariseërs gedoen het – en dit behels ook opregte liefde en eerbied aan Hom.
 
“Geregtigheid” is niks anders nie as volledige ooreenstemming met God se heilige wil (vgl. Matteus 22:34-40, veral vers 37) in alles wat jy is en doen – dat jou hart, nie net uiterlike dade nie, reg is soos God dit self bedoel. En Hy ken ons harte. (Lukas 16:15) Oppas dus, as jou kennis van die Woord meer is as jou gehoorsaamheid aan God, is jy dalk besig met skynheiligheid.
 
Gebed: Hemelse Vader, help my tot liefde, opregtheid en eerbied teenoor U en my naaste, soos U dit bedoel. Amen.
 
Previous article: Hoeveel gebede word deur jou beantwoord? - 26 Augustus 2022 Prev Next article: Wanneer is ek belangrik in die koninkryk? - 24 Augustus 2022 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.