Genade: Ware krag - 23 November 2022
Louise Gevers
Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 2 Korintiërs 12:9, 1983-vertaling
By 'n konferensie wat ek vroeër vanjaar bygewoon het, het een van die sprekers 'n treffende opmerking gemaak wat my regop laat sit en oor die implikasie van sy woorde laat dink het. Hy het gesê: "Wanneer jy gebore word, lyk jy soos jou ouers, maar wanneer jy sterf, lyk jy soos jou besluite." Hierdie insig is werd om oorweeg te word, wanneer ons nadink oor waarheen ons besluite ons lei. Vir Paulus was dit baie duidelik dat hy sy ou self afgelê het en dat hy 'n nuwe mens was wat deur die genade van Christus leef.
Dit is 'n verbeisterende gedagte dat Christus se "krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is" en om te besef dat alhoewel God alles wat ons leer in ons diens aan Hom, kan gebruik, is dit slegs wanneer ons ons swakheid erken en ons volkome aan Hom oorgee, dat sy krag vrygestel word. Dit het niks te make met ons voortreflike vaardighede, gawes of geleerdheid nie, maar slegs met sy genade alleen. Dit maak werklik nie saak hoe lank ons opleiding of studie geduur het nie.
Paulus se "roem" hier is heeltemal anders as voorheen. Nie net waardeer hierdie "egte Hebreër, in wetsopvatting ... 'n Fariseër" (Filippense 3:5) sy erfenis en kennis van die Wet nie, maar sedert hy die opgestane Christus ontmoet het, het hy ook visioene gesien en openbarings ontvang. Dit kon hom, gemeet aan gewone menslike standaarde, baie belangriker laat voel het, en hy kon nog meer oor homself geroem het.
Maar soos hy in sy geloof volwasse geword en "'n doring in die vlees" (2 Korintiërs 12:7) verduur het – geleerdes dink dat dit 'n aftakelende oogsiekte was – het hy verander en berus hy in die wete dat alhoewel hy teen 'n fisiese probleem stry, Christus se krag deur die Gees in hom werk en baie meer bereik as waartoe hy, Paulus, in sy eie krag in staat is.
Die "doring in die vlees" word 'n seëning vir hom want dit voorkom dat hy verwaand word. Hy is nie langer in die versoeking om al die eer vir homself toe te eien nie, want hy het geleer dat Christus die middelpunt is en wanneer hy ander onderrig, sê hy: "Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk." (2 Korintiërs 1210)
Dit beklemtoon dat, as ons Christus as die middelpunt van ons lewens het, ons ook nie beperk word deur watter beperkinge ons ook al het, of wie ons is nie. In die oë van God "maak [dit] nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één." (Galasiërs 3:28)
God het ons almal ewe lief en is in staat om ons kragtig in sy koninkryk te gebruik tot uitvoer van sy doel, want sy genade is ook vir ons genoeg. Hy werk deur elkeen wat Hy roep sonder om te diskrimineer. Hy gebruik die nederige en ongeskoolde persoon net soveel as wat Hy geleerdes gebruik.
Gebed: Genadige Here, ek verheug my in my swakheid want daardeur kom u krag tot volle werking. Amen