Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God red - 17 Februarie 2023

Benescke Janse van Rensburg 

Die Richland County Sheriff se departement in Amerika het onlangs ’n kort video op sosiale media gelaai van hoe ’n jongman wat op ’n brug sit om sy lewe te beëindig gered word (sien skakel onder). Die empatie waarmee die polisieman in die video die gesprek met die jongman voer het my getref. In ’n stadium bel hulle die jongman se ouers wat hulle in trane na die toneel haas.
 
Die video het my laat dink aan hoeveel mense rondom ons ook op ’n “onsigbare brug” staan – jou kollega, buurvrou, huweliksmaat of selfs ’n kind. Alhoewel ons nie die brug kan sien nie, is hulle besig om moed te verloor. Dalk staan jy ook vandag op só “brug”? Die vyand doen sy bes om ons daar te kry – of daar te hou.
 
God is egter soos die ouers van die jongman wat hulle na die brug haas en hulle kind omhels. Hy wil ons beskerm en in staat stel om met nuwe oë na ons lewens te kyk. In Matteus 11:28 lees ons: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Ook in Psalm 23:4 lees ons: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” En in Psalm 34:19 word ons herinner: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” (Teksverse: 1983-vertaling)
 
Mag ons vandag soos die polisieman bewus wees van mense rondom ons wat hoop benodig. En as jy voel of jy op die brug staan, mag jy opnuut God se arms om jou voel. Hy is nader as wat jy dink of as wat dit soms voel. Sterkte.
 
Gebed: Vader God, help my om vandag bewus te wees van u teenwoordigheid in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 
 
Sien na video hier: https://www.instagram.com/reel/CosywMLpwQn/?utm_source=ig_web_copy_link
 
Terugvoer: As jy enige vrae het of ’n getuienis wil deel van wat God in jou lewe gedoen het, stuur ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
 
 
Previous article: God sien alles - 20 Februarie 2023 Prev Next article: Wanneer God bonatuurlik opdaag - 16 Februarie 2023 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.