Hou moed in die donker ... Hou aan om in die lig te leef - 17 Maart 2023
Charlea Grey
“Voorheen was julle soos mense wat in die donker lewe, maar nou behoort julle aan die Here en nou is julle in die lig. Daarom moet julle lewe soos mense wat in die lig lewe. Julle moet die dinge doen wat mense doen wat in die lig lewe, julle moet goeie dinge doen, dinge wat reg is, julle moet eerlik wees.” Efesiërs 5:8-9. Bybel vir almal
So twee weke gelede was daar ’n storie in die nuus oor ’n verkeersbeampte van Kaapstad wat ’n seuntjie op haar rug gehad het toe sy besig was om op ’n motorongelukstoneel te werk. Die mense wat die foto van die vrou op sosiale media gesien het, het aanvanklik aangeneem sy het haar eie kind saamgeneem werk toe. Dit het later aan die lig gekom dat die seuntjie op haar rug, ’n tweejarige is, wat in die ongeluk betrokke was.
Terwyl die kind se ma in die motor vasgekeer was, het die arme seuntjie, wat saam met sy 11-jarige boetie uit die motor bevry is, onbedaarlik begin huil. Die verkeersbeampte, Andisiwe Gxabuza, het eindelik die tweejarige op haar rug vasgebind met ’n laken wat sy by die nooddienste gekry het. Dit het hom glo rustig gemaak. En Andisiwe het voortgegaan met haar werk. Sy is later, tydens ’n vergadering van die Kaapstad-metro se portefeuljekomitee oor veiligheid en sekerheid, vereer vir haar optrede.
Dié spesifieke nuusberig het my dag gemaak toe ek dit gelees het, veral na ’n besondere uitdagende week. Wat ’n mooi storie!
Ons word dikwels met slegte nuus gekonfronteer en die afgelope ruk lees ons veral oor magsvergrype en mense wat vir eie gewin ons land se hulpbronne lamlê. Daarom staan stories oor goeie mense uit, daarom herinner stories oor goeie dade ons dat daar baie mense is wat in die lig leef.
Nie elke goeie daad of goeie mens gaan die nuus haal nie, dit is so. Maar goeie dade maak die wêreld ’n beter plek, dit bemoedig, dit gee hoop. Daarom moet ons aanhou om net soos Andisiwe, in die lig te leef.
Gebed: Here, dankie vir so baie mense wat in die lig leef. Help my ook om elke dag tot eer van u Naam, in die lig te leef en aan te hou om die regte dinge te doen. Amen.