Die Gees leer ons die waarheid - 19 April 2023
Ewald Schmidt
“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.” Johannes 16:12-15, 2020-vertaling
Elke mens is uniek. Ons elkeen leer op verskillende maniere die belangrike lesse van die lewe. Elkeen van ons is ook op verskillende plekke in ons lewensreis saam met Jesus. Daar is seisoene in ons geloofslewe, waar ons geestelike behoeftes verskil van ander seisoene. Jesus weet dit! Die aand voor sy kruisiging was Jesus intens bewus hoe 'n geweldige groot skok die dissipels binne ure gaan beleef, wanneer Hy gevange geneem en wreed gekruisig gaan word. Ses weke later sou sy dissipels weer deur groot skok gaan wanneer Hy na die hemel toe opvaar. In krisistye lyk ons behoefte aan geestelike leiding en sorg anders as in ons alledaagse lewe.
Die Gees van God is ons Parakleet, het ons gister weer gelees. Die Parakleet is soos 'n advokaat in 'n hof, wat ons verdedig. Hy is baie meer ervare en het baie meer insig as ons. Daarom kan hy ons goed bystaan in ons saak. Die Heilige Gees is God. Hy weet alles. Hy ken my van my eerste oomblik van bestaan af. Hy ken my gedagtes. Sy grootste begeerte vir my lewe is dat ek Jesus sal ken, en dat Jesus se woorde my lewe sal vorm. In vandag se teks sien ons hoe die Heilige Gees die fokus altyd weer op Jesus in my lewe plaas. Hy help my om Jesus as Verlosser te ontmoet, en om die Woord in my eie lewe van toepassing te maak. Hy maak God se waarheid ook my waarheid, Hy leer my wie ek is as 'n nuwe mens, en hoe ek moet lewe om God te eer. Die Heilige Gees gee my ook die insig om die toekoms te kan hanteer met dit wat ek weet. Hy herinner my aan God se beginsels wanneer ek besluite moet neem. Hy herinner my aan God se beloftes wanneer ek deur moeilike tye moet volhard.
Wanneer ek Jesus as my Here leer ken, en in sy liefde bly, dan word Jesus verheerlik. Dan het die Heilige Gees sy belangrikste taak in my lewe verrig, dan verheerlik Hy ook vir Jesus.
Gebed: Gees van God, dankie dat U in my woon. Dankie dat U my ken, beter as wat ek myself ken. Dankie dat U Jesus aan my voorgestel het as my Verlosser, en dankie dat U my lei in Jesus se waarheid. Gee my die krag om te bly groei, en vrug te dra wat God sal verheerlik. Amen.