Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Godvresend in hierdie bedeling - 8 Mei 2023

Xanthe Hancox 

Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Titus 2:11-13, 1983-vertaling
 
Die vroeë Christene het geglo dat Christus se wederkoms enige oomblik kon plaasvind. Hierdie geloof het sy beslag gevind in Jesus se leringe. Hy het gesê dat niemand die dag en uur van sy wederkoms ken nie. (Matteus 24:36) Die gevolg was dat die vroeë Christene met 'n gevoel van dringendheid geleef het, want hulle het die wederkoms van Christus enige oomblik verwag.
 
Hierdie geloof dat Christus se wederkoms op hande is, het 'n diepgaande impak op die vroeë Christengemeenskap gehad. Dit het hulle gemotiveer om heilig en opreg te leef, die evangelie met ander te deel en mekaar lief te hê soos Christus hulle liefgehad het. Die wete dat Hy eendag weer sal terugkom en alles regstel, het te midde van vervolging en lyding vir hulle hoop en troos gebring.
 
Ongeveer 2 000 jaar later en Christus se wederkoms is steeds op hande. Dit is egter maklik om 'n bietjie selfvoldaan te raak en die ongelooflike geskenk van God se genade as vanselfsprekend te aanvaar. Hierdie genade verlos ons nie net nie, maar leer ons hoe om te leef. Dit stel ons in staat om "nee" te sê vir goddelose en wêreldse begeerlikhede, en elke dag met selfbeheersing en opregtheid godvresende lewens te lei.
 
Kom ons leef vandag met daardie dringendheid waarmee die vroeë Christene geleef het en kom ons laat die genade van God toe om ons lewens te verander. Kom ons sê "nee" vir die dinge wat ons wegtrek van God en lei eerder selfbeheersde, opregte, godvresende lewens. Kom ons sien met hoopvolle verwagting uit na die wederkoms van Jesus Christus, want ons glo dat Hy weer sal kom.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die geskenk van u genade. Help ons om dit ten volle te aanvaar en dit toe te laat om ons lewens te verander. Gee ons die krag om "nee" te sê vir goddelose en wêreldse begeerlikhede en elke dag ten volle in u genade en liefde te leef. Amen
 
Previous article: In 'n groef - 9 Mei 2023 Prev Next article: Beweeg aan - 5 Mei 2023 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.