Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jesus in koninklike heerlikheid - 2 Junie 2023

Ben Fourie 

“Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien en in die middel van die kandelare, iemand net soos die Seun van die Mens. Hy het 'n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met 'n goue band wat om sy bors vasgebind was.” Openbaring 1:12-13
 
Toe Johannes die laaste keer vir Jesus tydens die hemelvaart gesien het, was Hy nog in menslike gestalte soos wat hulle Hom elke dag gesien het toe hulle saam met hom deur die land gestap het, saam geëet en gesels het. Maar nou in hierdie visioen sien hy Jesus in sy goddelike majesteit as Koning, Heerser en Ooorwinnaar. Die beeld wat ons hier kry met oë wat soos vuur vlam en voete soos gloeiende koper en 'n stem wat soos die gedruis van baie waters klink, wys wie Hy nou is. Uit sy mond het die Woord van God gekom soos 'n swaard met twee snykante om God se boodskap van verlossing, maar ook die verdelging van God se vyande te simboliseer.
 
Dan volg die opdrag aan Johannes om op te skryf wat Jesus aan die sewe gemeentes in Asië wil sê. Die boodskap is egter nie net vir die gemeentes bedoel nie, maar reik dwarsoor die eeue uit en praat met elke gemeente en elke gelowige ook van die 21ste eeu. In elke brief, maar natuurlik ook verder in die boek, word iets geopenbaar van Christus, wie Hy is en wat Hy kan en wil doen. Hierin is vir elkeen van ons as gelowiges 'n geweldige troos opgesluit. Wie is Hy?
 
Hy hou die sewe sterre in sy hand en wandel tussen die sewe kandelare. Die sterre is die sewe boodskappers of leraars en die kandelare die sewe gemeentes. In al die beproewinge waardeur hulle gaan, is daar die versekering dat Jesus hulle stewig in sy hand hou en by hulle teenwoordig is. Dit geld vandag nog vir elkeen van ons. Dit is as’t ware die vervulling of bevestiging van Johannes 10:28 : “…en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
 
Om dit alles te bevestig sê Jesus aan Johannes in Openbaring 1:18: “Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades” (doderyk). Wat kan ons meer vra as dit? Hy is die Amen op al ons probleme, al ons gebede en al ons behoeftes.
 
Gebed: Ons loof en prys U vandag dat ons die sekerheid het dat selfs in die grootste gevaar, ja selfs in die dood, ons stewig in u sterk hand vasgehou word. Amen
 
Previous article: Christus die oorwinnaar - 5 Junie 2023 Prev Next article: Jesus se openbaring aan ons - 1 Junie 2023 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.