Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wysheid in die Bybel - 1 September 2023

Ben Fourie 

“Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel: om vertroud te raak met wysheid en vermaning, om woorde van insig te verstaan.” Spreuke 1:1-2, 2020-vertaling
 
Stephan Joubert skryf in sy boek met die titel, "Verander jou kop, verander jou Lewe" die volgende: “ 'n Lewe van wysheid begin altyd in jou kop. Daarna vat dit grond in 'n deurdagte lewe voor God en tussen ander. Wysheid is die somtotaal van 'n goed geleefde lewe.” 'n Mens sal ook kan sê dat wysheid die bereidheid is om jou oop te stel vir God en ander mense, die bereidheid om te leer van God en van die lewe.
 
Die Bybel bevat baie verskillende tipe boeke waarvan die wysheidsliteratuur 'n belangrike deel uitmaak. Dit is veral Job, Spreuke en Prediker asook 'n aantal Psalms wat as wysheidsliteratuur beskou word. Daar is ook baie buite-Bybelse bronne van wysheidsliteratuur en ons kan aanvaar dat die skrywers van Spreuke ook uit hierdie bronne geput het en sekerlik van die bekende spreuke van die tyd gebruik en verander het sodat dit by die Joodse godsdiens ingepas het.
 
Die Bybel met verklarende aantekeninge sê dat ons nie seker is of daar in Israel ook 'n aparte klas of stand van wyse manne was soos by van die ander Oosterse volke nie. Ek glo ons kan aanneem dat daar wel persone in die Joodse samelewing was wat hulle toegelê het op uitsprake oor wysheid. Dit was veral in die tyd van Dawid en Salomo wat die wysheidsliteratuur sy grondslag gekry het. Volgens ons teks van die dag word die boek dan ook gesien as deur Salomo geskryf, maar ons kan aanneem dat baie van die spreuke van oor 'n groot gebied versamel is en nie van Salomo alleen is nie.
 
Die spreuke waarna ons in die volgende maand gaan kyk, is nie maar sommer net algemene spreekwoorde nie, maar baie weldeurdagte en goed deurleefde wysheid wat deur geslagte heen uit ervaring opgebou en versamel is. Daarom sê ons teksvers van vandag dat die spreuke bedoel is om ons vertroud te maak met wysheid. Spreuke gaan oor die alledaagse lewe en is bedoel om ons op 'n pad te hou wat vir God en ander mense welgevallig is.
 
Gebed: Leer my Heer u regte weë en wys vir my die pad wat uitloop op 'n verstaan van wie U is en hoe U my lewe wil laat verloop. Amen
Previous article: Ontsag vir God - 4 September 2023 Prev Next article: Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Stefanus - 31 Augustus 2023 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.