Charlea Grey 

“Die Here seën jou en Hy beskerm jou, Die Here is naby jou en Hy is genadig vir jou, Die Here doen wat jy vra en Hy laat dit goed gaan met jou.” Numeri 6:24-26, Bybel vir Almal
 
Terwyl ek gewonder het waaroor ek volgende wil skryf, kon ek nie help om te dink aan die hordes lewenslesse en lesse oor liefde wat ek elke dag by my dogtertjie leer nie. Ek het in die verlede al geskryf oor die uitdagings van ’n nuwe baba in die huis en hoe dit my uitkyk op die lewe verander het.
 
Daardie lesse het natuurlik nie opgehou nie.
 
Ons dogtertjie word oor drie maande twee. Ek is verstom oor hoe die tyd verby gevlieg het en kan nie glo ons het dit al tot hier gemaak nie. Maar wanneer ek terugkyk op haar kort lewensreis tot hier, sien ek God se genade. Ek sien familie en vriende se bystand, liefde en raad. Ek sien ook my eie trane, onsekerhede en intense vrese – groter as wat ek al ooit beleef het. Ek sien hoogtepunte, groot blydskap en mylpale. Ek sien ’n avontuur.
 
Ja, een van die wonderlikste dinge wat ek deur ’n amper-twee-jarige se donkerbruin oë beleef, is dat die lewe ’n enorme avontuur is. Daar is soveel om te beleef en te ontdek. En daar is werklikwaar vreugde in die eenvoudigste oomblikke. Soos wanneer jy agterkom jy kan jou ouma en oupa se kat kielie én sy kan jou terugkielie as sy haar sagte neus teen jou hand druk. Of wanneer jy in ’n winkeltrollie gestoot word en vir almal in die verbygang waai. Of nóg beter – wanneer jy ontdek daar is klein winkeltrollies wat kinders self kan stoot! (Al kan jy skaars bo-oor sien).
 
Ek het al so dikwels die fout gemaak om te dink dat die lewe net ’n avontuur is as ’n mens opwindende dinge doen en na eksotiese plekke reis.
 
Wanneer ons deesdae klei speel of saam inkleur by die koffietafel in ons leefkamer, word ek so meegevoer, dat ek vir ’n paar minute vergeet van al die grootmensdinge wat my met tye so moeg en moedeloos kan maak. Ek sit my selfoon vir ’n rukkie eenkant en ek ontdek weer klein, eenvoudige oomblikke saam met my geliefdes. Ek lag vir ons jaag- en wegkruipspeletjie in die huis. Ek verlustige my in koekies en tee. En dan besef ek weer, o aarde, die lewe is sowaar ’n avontuur. Die lewe is opwindend en mooi, selfs net hier by die huis, in ons leefkamer en op ons stoep. En daardie oomblikke, dít is God se genade.
 
Gebed: Here dankie vir hierdie lewe wat ons elke dag kan beleef. Help my om die mooi van die lewe opnuut raak te sien en te waardeer, en te onthou U is saam met ons op hierdie ongelooflike avontuur. Amen.