Charlea Grey 

Julle moet elke minuut reg gebruik, elke minuut wat julle lewe, want dit is nou die tyd wanneer mense slegte dinge doen. Julle moenie dom dinge doen nie, julle moet seker wees dat julle verstaan wat die Here wil hê julle moet doen. Efesiërs 5:16-17, Bybel vir Almal
 
Ek weet ek het nou vir ’n week lank geskryf oor van die grootste lesse wat ma-wees my geleer het. Maar een van die dinge wat ek opnuut ontdek het, is die waarde van tyd. Ek kyk voorwaar met ander oë na die ure in ’n dag.
 
Tyd is in die stadium van my lewe van groter waarde as geld. Eerstens omdat ek voor my oë sien hoe dit verbyvlieg. Tweedens omdat ek níks kan doen om dit op te gaar nie. Niks.
 
Dit is een van die mees vreesaanjaende gedagtes en dit laat my dieper dink oor my prioriteite. Dit raak boonop vir my erger soos ek ouer raak want ek is oortuig daarvan dat elke jaar nou net vinniger verbyskiet as die vorige een! (Was dit dan nie net nou die dag nog lockdown nie?!)
 
Ek dink dit is belangrik dat ons gereeld vir ’n oomblik moet sit en na ons lewens gaan kyk. Dan moet ons onsself afvra, wat is vir my, in hierdie fase van my lewe, belangrik?
 
Jou antwoord gaan tien teen een van myne verskil.
 
Vir my is dit nou belangrik om hard te werk en soms laataand ekstra ure in te sit, want ek bou nog aan ’n loopbaan. Maar ek het nou ook ’n jong gesin. Dit beteken badtyd om 18:00 is ’n prioriteit. Dis vir my belangrik om ná badtyd op die groot geel stoel in my dogtertjie se kamer te sit en vir haar voor te lees uit haar boek “Waar is katjie?” terwyl sy styf teen my sit. (Ek lees dit ten minste drie keer – sy dring aan. Darem is die storie kort.) En al kan dit soos tydmors voel om elke aand dieselfde boekie drie keer te lees, is dit nie vir my tydmors nie. Dit is kosbare tyd wat ek nooit weer gaan terugkry nie, want op ’n dag, gaan sy skielik nie meer wil luister na “Waar is katjie nie”.
 
En dis ook okay, want dit is hoe die lewe werk. Maar dis ook hoekom tyd en kosbare oomblikke saam met ons geliefdes belangrik is. Dit is vlietend.
 
God het nog altyd waarde geheg aan tyd. Ek dink nie Hy wil hê ons moet ooit ons tyd mors nie. Daarom moet ons gedurig besin – wat is werklik belangrik? Wat verryk my lewe? Wat maak dat ek ’n beter mens kan wees as wat ek gister was? Hoe gaan ek vandag my tyd gebruik? Hoe wil God hê moet ek my tyd deurbring?
 
Gebed: Here, tyd is só kosbaar en ons besef dit nie altyd nie. Help my om my tyd op ’n slim manier te gebruik. Help my om te weet watter dinge eerder die moeite werd is, sodat ek kan ophou om tyd te mors met dinge wat nie my lewe verryk nie. Amen.