Charlea Grey
 
Wanneer iemand dit goed laat gaan met ander mense, dan gaan dit goed met hom. As hy vir ander mense water gegee het toe hulle dors was, dan sal hy ook water kry wanneer hy dors is. Spreuke 11:25, Bybel vir Almal
 
So ’n paar jaar gelede het ek en my ma, saam met my ouma by ’n koffiewinkel gekuier. Ons het my ouma se verjaardag gevier. Omdat my ouma al in haar negentigs is, het sy in daardie stadium reeds gesukkel om te hoor. Dus het ons nogal hard gepraat. En hoe harder ons met my ouma praat, hoe harder praat sy terug. (Ek vermoed sy het begin dink dis ons wat sukkel om te hoor!)
 
Die arme mense in die koffiewinkel moes luister hoe ons gesels oor alles en nog wat – van Covid-19-inentings tot my ouma se self-diagnose van rustelose bene.
 
Toe my ma teen die einde van die kuier, die rekening wou gaan betaal, moes ons hoor ’n vreemdeling het reeds. Die persoon het glo gehoor ons vier my ouma se verjaardag.
 
Dis ’n gebeurtenis wat my altyd sal bybly – ’n wildvreemdeling wat dit goedgedink het om vir ons almal se koek en koffie te betaal, sonder enige erkenning, sonder dat ons kon dankie sê. Dit was die eerste keer wat so iets met my gebeur het.
 
Ek dink nou nog terug aan daardie dag want ek het iets van daardie anonieme persoon se menswees beleef. Dit laat my dink oor my rol in die samelewing en hoe ek ander kan help en ek besef dit is iets wat ek meer gereeld moet doen – om sommer net te help of te gee, waar en wanneer ek kan.
 
Ons moet nooit vergeet wat ons vir ander mense kan beteken nie. Ons kan elkeen, met klein dingetjies ’n groot verskil in ander mense se lewens maak. Is dit nie ook waarom ons hier is nie? Om ’n verskil te probeer maak? Om met ons optrede van God se genade en liefde te getuig.
 
Dink vir ’n slag so daaraan – jy kan met jou optrede vir iemand anders die kans gee om ’n wonderwerk te beleef, selfs al is dit net ’n kleintjie.
 
Gebed: Here, baie dankie dat U wonderwerke in ons lewens doen – op verskillende maniere en op verskillende tye. Gebruik my om ’n verskil te maak in ander mense se lewens sodat hulle ook u liefde en hand kan beleef. Amen.