Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 16 April 2012

Christene moet nou reeds hulle hoop prakties uitleef

Quintus Heine

Mark 1:40,41: Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: "As U wil, kan U my gesond maak." Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: "Ek wil. Word gesond!"

Een van die flieks wat ʼn baie groot indruk op my gelaat het, was The Shawshank Redemtion

Die verhaal gaan oor  ʼn jongman Andy – ‘n gewone mens soos ek en jy, wat heeltemal onskuldig in die tronk beland.  Tog verloor hy nooit sy hoop om vryheid nie - al vermoor die hoofbewaarder die enigste getuie wat sy onskuld kon bewys.  Na 20 jaar slaag hy daarin om te ontsnap en skep sy eie vryheid!  Maar die storie se trefkrag lê nie daarin dat sy eie hoop waar geword het nie. Dit lê daarin dat die tyd toe hy in die tronk was, hy vir almal in die tronk hoop gegee het!

Ten spyte van die haglike omstandighede in die tronk, het hy vir die mense in die tronk  ʼn nuwe lewensuitkyk gegee. Hy help hulle om ʼn biblioteek in te rig.  Hy leer ʼn man lees en laat hom vir ʼn diploma inskryf.  Hy help die bewaarders om hulle finansies te beplan. Hy het vir sy medegevangenes getoon dat  ʼn mens kan hoop. Die film eindig dan ook – waar ʼn man wat 40 jaar in die tronk was en altyd in Andy se optimisme getwyfel het, uiteindelik vrygelaat word en ook weer sin in sy lewe kry! Dit alles omdat  Andy hom geleer het om te hoop!

In die teks vir vandag het Jesus by ‘n melaatse man betrokke geraak en vir hom hoop gegee.

Een van die grootste geskenke wat ons vir iemand kan gee,  is om hulle te leer om te hoop. Hoop is nie net iets vir die toekoms nie, dit moet elke dag van jou lewe geleef word. Ons moet ander mense help  om met hoop te lewe.

Soms moet ons mense help om hulle eie denke te verander sodat hulle  te midde van moeilike omstandighede, die hoop kan raaksien. Jy leer mense om te hoop deur betrokke te raak by hulle seer en lyding.  Dit is eers as ander weer liefde, omgee en betrokkenheid uit ons hande ervaar,  dat hulle weet:  om te hoop is moontlik.

Jesus het ons geleer dat ons vandag reeds  met hoop moet leef en dit met ander moet deel.

Gebed: Here help my om met my daaglikse hoopvervulde lewe ander mense te help om met hoop te leef.

Previous article: Vers n dag - 17 April 2012 Prev Next article: Vers n dag - 13 April 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.