Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 April 2012

Die opstanding maak jou 'n mens van die lig

Quintus Heine

Efesiërs 5:8  “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle die lig. Leef dan as mense van die lig.”

In Oostenryk het daar so 400 jaar gelede ’n koning in ’n pragtige paleis gewoon. Omdat sy onderdane so lojaal aan hom was, wou hy graag aan hulle iets nalaat. Uiteindelik het hy besluit om hulle vervalle kerkgebou met ’n nuwe kerkgebou te vervang. Hy het gevoel dat dit ’n slegte beeld van sy Christenskap skep dat hy in so ’n pragtige kasteel woon, maar waar die gelowiges bymekaarkom om die hemelse Koning te aanbid, dit so vervalle lyk.

Die eindproduk was ’n pragtige klipkerk. Die houtsneewerk aan die binnekant is met allerhande Christelike simbole versier. Die brandglasvensters het die hele verhaal van Jesus vertel.  Die reuse kerktoring het soos ’n vinger vir almal na God gewys. Dit was voorwaar ’n voorreg om in so ’n  pragtige kerk te aanbid.  Daarbinne het ’n mens regtig naby aan God gevoel en kon ‘n mens sy teenwoordigheid ervaar.

Toe die mense bymekaarkom vir die inwyding van hierdie kerkgebou, het hulle beker oorgeloop van vreugde en dankbaarheid. Die dogter van die koning het egter in sy oor gefluister en gevra:  “Maar Pa, daar is dan geen lampe in die kerk nie.” Toe wys die koning na die netjiese lamphouers teen die mure van die kerk. Hy het opgestaan en gesê: “Vriende, die kerk het geen lampe nie. Elkeen sal sy eie lig saambring. Terwyl die diens aan die gang is, sal al die lampe op die rakke teen die mure staan.  Op hierdie manier sal julle die kerk verlig net soos julle die pad waarlangs julle na die kerk gekom het, verlig.  Wanneer iemand nie kerk toe kom nie, sal sy deel van die kerk nie verlig word nie en so ook nie die pad waarlangs hy gewoonlik kom nie. Onthou julle wat Jesus ons geleer het?” het die koning ter verduideliking afgesluit. “Julle is die lig vir die wêreld.”

En so het dit gekom dat hierdie kerk in die volksmond bekend gestaan het as die ‘Kerk van die Lampe’.

Jesus se opstanding het die bande van die duisternis verbreek om vir ons die ewige lig te gee. As ons saam met Christus opgestaan het, moet ons ook Jesus se lig elke dag deur ons lewenswyse laat skyn.

Wat  gaan jy vandag doen om Jesus se lig te laat skyn  vir die mense wat vandag  jou pad kruis?

Gebed:  Here, help my om vandag 'n lig van Christus se nuwe lewe in 'n donker wêreld te wees.

Previous article: Vers n dag - 20 April 2012 Prev Next article: Vers n dag - 18 April 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.