Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God wil ons genees - 11 Maart 2025

Benescke Janse van Rensburg
 
Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Psalm 147:3, 1983-vertaling
 
In Egipte het ’n man onlangs by die hospitaal opgedaag met erge maagpyn. Alhoewel hy gedink het dat hy voedselvergiftiging het, het die dokters hom geskok ingelig dat hulle op 'n X-straal ’n hele selfoon in sy maag kon sien.
 
Die man het skaam erken dat hy maande vantevore per ongeluk sy eie selfoon ingesluk het. Hy was te skaam om vir enigiemand daarvan te vertel. In stede van mediese hulp gaan soek, het hy gehoop dat dit op die natuurlike manier sou uitkom. Dokters was genoodsaak om die selfoon chirurgies uit sy maag te verwyder – en dit was nog heeltemal in een stuk.
 
Die storie klink dalk absurd, maar soms is ons net soos hierdie man wanneer ons nie ons eie sielswonde, sonde of selfs net “sekere areas” in ons lewens (finansies, verhoudings, gewig, noem dit) in die gesig wil kyk en God se hulp inroep in daardie areas nie. Ons “hoop” dit gaan weggaan terwyl dit eintlik vererger tot waar ons soos die man met ’n “maagpyn” sit.
 
God is ons Geneesheer. Hy wil ons help om vry te leef. In 1 Johannes 1:9 lees ons: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” Ook in Psalm 147:3 lees ons: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.” En in Matteus 11:28 sê Jesus: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
 
Kom ons raak ontslae van die dinge wat verhoed dat ons God se beste vir ons lewens ervaar! Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U genees. Vandag bring ek (noem die area) na U toe en ek vra dat U my sal genees. Help my om u stem duideliker te hoor en meer van U in my lewe te ervaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Previous article: Hy soek ons harte - 12 Maart 2025 Prev Next article: God verlig die pad - 10 Maart 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.