God se goeie nuus: Jesus is ons vaste fondament - 23 Junie 2025
Louise Gevers
“Elkeen wat na My toe kom en my woorde hoor en daarvolgens handel – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos 'n man wat besig was om 'n huis te bou. Hy het gespit en diep gegrawe, en die fondament op die rots gelê. Lukas 6:47-48a, 2020-vertaling
“The road goes ever on and on, down from the door where it began”, sê JRR Tolkien. Waar en hoe dit begin het sal altyd, soos ook in die geval van die lewensreis, die perspektief beïnvloed van die persoon wat op pad is, en ook die uitkoms bepaal. Die fondament van enigiets is lewensbelangrik, want wat ook al daarop gebou is – fisies of metafories gesproke – se staan of val, hang af van die kwaliteit van die fondament.
Ek het onlangs die geleentheid gehad om op 'n bevrore meer te loop – wat ek versigtig gedoen het – twee kilometers tot in die middel en weer terug. Die feit dat die ys besig was om te kraak en te smelt, het nie genoeg vertroue by my ingeboesem om na die anderkant te stap nie. 'n Goeie fondament moet goed en stewig wees sodat die gebou wat dit ondersteun die toets van die tyd kan deurstaan.
Is dit nie ook die geval met ons geloof nie?
Kyk ek terug na my kinderjare, besef ek die grootste geskenk wat ek ontvang het was om op 'n jong leeftyd aan Jesus voorgestel te word. Ek was egter nie toe bewus dat elke nuwe ding wat ek oor Hom geleer het – elke Sondagskoolles, elke Psalm wat ek gememoriseer het, elke Kersspel – gehelp het om die fondament te lê nie. Wat ek wel geweet het, was om van Jesus te leer my bly gemaak het. Sy liefde het ryke betekenis aan my lewe gegee, iets wat ek vandag steeds ervaar.
In vandag se teksvers sê Jesus dat daar diep gegrawe moet word om die fondament te lê en Hy vergelyk diegene wat sy woorde hoor en daarvolgens handel met iemand wat sy huis op rots bou. Dit is nie genoeg om net te hoor nie. Om te doen is noodsaaklik. Om net te hoor is soos om die argiteksplanne te bewonder, maar nooit die struktuur te bou nie. Wanneer ons egter tot aksie oorgaan, word die fondament gelê en die huis gebou – sterk, veilig en blywend, selfs in die grootste storm.
Jakobus beklemtoon dit wanneer hy skryf: "Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie." (Jakobus 1:22) Jesus waarsku ons om nie louwarm te wees nie want halfhartige geloof sal nie oorleef nie. (Lees: Openbaring 3:15-16). 'n Huis wat op sand gebou is, sal ineen stort, maar die een wat op rots gebou is, sal bly staan en dit demonstreer die stabiliteit wat met gehoorsaamheid gepaardgaan.
Daardie vroeë lesse het my in Jesus geanker sodat ek die twyfel, vrees en onsekerhede van die lewe se storms kan weerstaan. Alhoewel ek steeds beproewings en onsekerhede beleef, bly Gods Woord steeds my gids en krag, en deur die waarhede van die Woord in elke uitdaging toe te pas, groei ek in my geloof.
Gebed: Dierbare Here Jesus, U is my Rots, my vaste fondament. My grootste begeerte is om U elke dag beter te ken. Skenk aan my die blydskap om nie net u woorde te hoor nie, maar dit ook daagliks te leef. Amen