Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: 'n Skat wat elke dag beter word - 25 Junie 2025

Louise Gevers
 
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 2 Korintiërs 4:16, 1983-vertaling
 
Die Christelike lewe is vol paradokse en 'n totale raaisel vir die manier hoe die wêreld dink: Jesus het arm geword sodat ons kan ryk word; ons moet sterf om te kan leef en God se krag word in swakheid volbring. Hierdie waarhede is vir ons as gelowiges kosbaar omdat wanneer ons dit beleef, ervaar ons terselfdertyd blydskap want God se liefde vir ons is so groot dat Hy, ongeag hoe uitdagend die situasie ook al is, sy krag in ons laat werk.
 
Die Christen filosoof, Søren Kierkegaard, het op 'n keer gesê: "Die mens se grootste krag lê in sy vermoë om sy eie swakheid te kan erken." Miskien is dit omdat, wanneer ons dit doen, dit ons nederig maak. Dit dwing ons om verby onsself te kyk en God raak te sien, Hy "wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink" (Efesiërs 3:20) en, deur dit te doen, ons aan sy groter krag onderwerp.
 
Dit eggo Paulus se kragtige frase in vandag se teks: "ons [word] nie moedeloos nie". Bewus van ons eie swakheid plaas ons ons hoop en vertroue in God. Wanneer ons Hom aanroep ontvang ons sy krag – dieselfde goddelike krag van die "God wat gesê het: 'Laat daar lig skyn uit die duisternis,' het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal." (2 Korintiërs 4:6) Dit is Christus in ons wat ons elke dag nuut maak.
 
Katherine Wolf het hierdie waarheid besef toe sy besig was om te vergaan in die duisternis van pyn en lyding, en tog was dit in daardie donkerte dat God begin het om opnuut in haar te werk. Sy het die woorde van die Amerikaanse skrywer, Barbara Brown Taylor, aanvaar as 'n weerspieëling van haar eie ervaring na haar lewensveranderende beroerte: "New life starts in the dark. Whether it is a seed in the ground, a baby in the womb, or Jesus in the tomb, it starts in the dark."
 
In die hospitaal, toe sy uiteindelik haar bewussyn herwin het maar nie kon praat nie, was sy desperaat om almal te vertel dat sy nie verander het nie – sy was steeds dieselfde Katherine aan die binnekant. Dit was slegs haar uiterlike wat verander het. Vandag, 15 jaar later, sien sy dit anders, en maak dit nie meer saak nie. Sy glo dat lyding ons verander – dat dit mense nuut maak. Sy vier die goeie wat gekom het uit die donkerte van haar lyding en sy erken dat sy nuut gemaak is. Soos Jesus haar elke dag onderhou, ondervind sy hoe Hy haar nuut maak.
 
Ons mag miskien nooit die intensiteit van Katherine se lyding beleef nie, maar ons almal ken die broosheid van die lewe hier op aarde. Mag ons in alle lewensomstandighede aan Jesus vashou – nooit moed verloor nie – maar in sy teenwoordigheid bly en ons verbly omdat Hy ons elke dag deur sy genade nuut maak.
 
Gebed: Dierbare Here Jesus, dankie vir u seëninge en dat U my elke dag deur die skat van God se liefde en genade nuut maak. Amen
 
Previous article: God se goeie nuus: Die groot ontsnapping - 26 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: Hy is ons Vriend vir altyd - 24 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.