Somer: Die tyd om te werk - 12 Augustus 2025
Ewald Schmidt
Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys. Hy wat nie 'n aanvoerder, opsiener of heerser het nie, berei in die somer sy kos voor, versamel in die oestyd sy voedsel. Spreuke 6:6-8, 2020-vertaling
In die natuur is die somertyd die geleentheid om te werk en vir jouself te sorg. Ons word opgeroep om na die mier as voorbeeld te kyk. Miere word nie aangesê om te werk en sy kosskure vol te maak vir die komende winter nie. Hulle doen dit van nature. Terwyl die geleentheid daar is, werk hulle hard om voorsiening te maak, want die winter met sy skaars tye is op pad.
Terwyl ek hierdie skryf, is ek diep onder die indruk van die moeilike tyd waarin ons tans verkeer. Baie van ons mense is werkloos. Hulle werk nie omdat hulle lui is nie, die ekonomie is net van so 'n aard dat mense in die somer van hulle lewe nie formele werk kan verkry nie. Ook hier kan ons by die mier leer. Elke mier het nie sy eie koskamer in die kolonie nie. Hulle werk saam om die kolonie deur die winter te kry. Ek dink daar is 'n groter verantwoordelikheid op ons wat werk het, om te kyk hoe ons mense kan help wat dit nie tans het nie.
Maar in ons teksvers word die luiaard aangespreek. Dié persoon wat kan werk, maar nie wil nie. Die ene wat terugsit en wag vir ander om vir hom te sorg. Spreuke het nogal baie daaroor te sê. Een van my gunsteling verse hieroor is Spreuke 20:4 (1983-vertaling) “ 'n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie.”
Terwyl dit die somerseisoen van ons lewens is, is dit die geleentheid om te werk, en so te sorg vir vandag se behoeftes. Maar ons leer by die miere dat daar 'n winter op pad is, 'n tyd van skaarste. Vir daardie tye moet ons iets wegsit om voorsiening te maak. Ons is dwaas as ons net vir vandag lewe, sonder om vir môre te beplan. Jesus het wel gesê ons moenie oor môre bekommer nie, die Here sorg vir ons (Matteus 6:31). Dit is twee kante van dieselfde muntstuk. Vertrou op die Here, en lewe voluit vir Hom. Werk ook vandag, en gryp elke geleentheid aan wat oor jou pad kom. Spandeer jou geld en gawes met wysheid, tot opbou van die Here se koninkryk.
Gebed: Here, dankie vir die somertye in ons lewe. Dankie vir wanneer ons geseënd is met die krag en die geleenthede om te kan werk. Help ons om ons dagtaak met vreugde te doen, soos vir U en nie vir mense nie. Help ons om verantwoordelik te spaar vir die wintertyd van ons lewe. Maar leer ons om vrygewig te wees, en te help waar ander nie dieselfde geleenthede as ons het nie. Amen.