Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Psalm of vyf: Psalm 1 - 6 Oktober 2025

Charlea Grey
 
Dit gaan goed met 'n mens wat lief is vir wat die Here sê, 'n mens wat elke dag en nag dink aan wat die Here sê. So 'n mens sal wees soos 'n boom wat langs 'n waterstroom groei, 'n boom wat vrugte dra op die regte tyd, en wat blare het wat altyd groen is. Dit gaan goed met alles wat hy doen. Psalm 1:2-3, Bybel vir almal
 
Ek het al baie geskryf oor die gebroke wêreld waarin ons leef. Dinge is ook nie altyd maklik vir Christene nie. Ons leef in 'n tyd waar daar baie kritiek is teenoor Christene, die kerk oor die algemeen, en ons word dikwels omring deur mense wat glad nie gelowig is nie.
 
In Psalm 1 lees ons hoe 'n mens wat lief is vir die Here en nadink oor God se Woord, soos 'n boom is wat langs 'n waterstroom groei en die regte vrugte op die regte tyd dra. So 'n mens is soos 'n boom met groen blare.
 
Dit laat my so dink aan wat ons rol as Christene in die samelewing is en hoe groot ons impak eintlik kan wees.
 
Dink maar net aan die verligting wat 'n groot koelteboom teen die somerson bied. Die skuiling wat dit kan bied teen reën. Maak nie saak waar jy jou bevind nie, jy kan iewers 'n boom wees wat koelte bied – sonder 'n groot aankondiging, sonder om luidrugtig te wees daaroor.
 
In my werk is daar 'n sê-ding: "Show, don’t tell." En ek voel dit is ook hoe ons as Christene behoort te leef. Ons moet met ons optrede, ons dade wys wie en wat ons is, eerder as om groot te praat. Met dit bedoel ek dat ons God se liefde moet uitleef en dit op 'n praktiese manier vir mense moet wys.
 
Dit sluit vir my so mooi aan by die beeld van die boom met sy groen blare. Wys vir mense jy is 'n groen boom wat kalmte, rustigheid en koelte bied. Wees 'n plek van veiligheid en liefde, een van God se bome wat beskutting bied, maak nie saak waar jy jou bevind nie.
 
Gebed: Here, help my om op u Woord en wil te fokus en so ook 'n groen boom te wees waar koelte en skuilte die nodigste is. Amen.
Previous article: Psalm of vyf: Psalm 23 - 7 Oktober 2025 Prev Next article: Die mooiste, mooiste maand: En jy is ook mooi - 3 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.