Verbonde: Lyding verander perspektief - 20 November 2025
Louise Gevers
Ek het toe die goeie verwag, maar rampe het my getref, ek het uitgesien na lig, maar donker het my oorval. Job 30:26, 1983-vertaling
Ons almal beleef soms moeilike tye en hartseer wat ons uitput, van ons geluk beroof, van ons eiewaarde ontneem en wat ons laat vra: "Hoekom ek?"
Dink ons daaroor na, herken 'n mens soms jou eie aandeel in jou lyding, maar soms is dit onpeilbaar, frustrerend en onverstaanbaar. In Jeremia se woorde in gister se gebed "vreugde het verdwyn uit ons hart" en "die kroon het van ons kop geval" (Klaagliedere 5:15-16) herken ons woorde waarmee ons beskryf kan word, ongeag wie ons is of waar ons woon.
Job, van wie God aan Satan gesê het: "hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad" (Job 1:8), kon nie identifiseer wat hy gedoen het om hierdie lyding te veroorsaak nie. Hy was deernisvol teenoor sy naaste, het aan almal goed gedoen en hy het selfs reëlings getref om na feesdae sy kinders te reinig, "... hy [het] vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” (Job 1:5)
Dit is te verstane dat sy benoudheid geen grense geken het toe, in kort tydjie, al sy beeste en donkies gesteel of vernietig is, al sy slawe doodgemaak (Job 1:15) en sy tien kinders almal, terwyl hulle saam geëet en gedrink het, gesterf het toe daar "meteens 'n sterk wind van die woestyn se kant af opgekom en die huis van al vier kante af op [sy] kinders omgewaai [het nie]. (Job 1:19) Dit het Job beroof van enige hoop wat hy mag gehad het om in vrede al sy dae saam met sy familie uit te leef en die vrug van sy arbeid te geniet.
Is dit nie 'n idee wat ons almal diep binne koester nie? Ons leef, het lief, werk hard, ontspan en glo dat ons suksesvol sal wees en die lewe sal kan geniet. Maar wanneer te midde van dit alles, lyding ons tref, ontdek ons gou dat ons nie al die antwoorde het nie en moet buite onsself vir hulp soek. Job se eerste onmiddellike reaksie was om, ten spyte van sy droefheid, God te aanbid: "Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21b)
Alles waarvoor hy gewerk en omgegee het, is weggeneem. Waar daar eens deur sy gemeenskap na hom opgekyk is, word Job nou deur mense jonger as hy bespot en word daar in sy gesig gespoeg. Job is op sy knieë gewing en hy kla by die Here: "Ek het toe die goeie verwag, maar rampe het my getref, ek het uitgesien na lig, maar donker het my oorval. Dit kook in my, ek kom nie tot rus nie ..." (Job 30:26-27)
Job het egter nooit sy geloof verloor nie. Alhoewel hy, terwyl hy deur sy vrese werk, God dapper vra hoekom Hy toelaat dat hy so onder die bose moet ly – en dit terwyl dit lyk asof slegte mense floreer – verlang sy hart tog dat God hom moet hoor, dat hy as 'n regverdige voor Hom moet kan staan en hy as 'n man van integriteit herstel moet word.
En God antwoord Job.
God beloon Job se onwrikbare geloof en beëindig sy lyding. Hy regverdig hom en seën hom met 'n dubbele porsie sodat hy twee keer meer ontvang as wat hy voorheen gehad het. Maar vir Job is die beste seëning toe die Almagtige hom aanspreek "uit die stormwind" (Job 40:1), hom aanspreeklik hou, hom nederig maak, sy gees herstel en hom die ware aard van die verhouding wat Hy met hom wil hê, laat verstaan – homself en nie sy goeie werke nie ...
Dit is ook wat Hy van ons verlang.
Gebed: Liefdevolle God, dankie dat U ons nooit alleen laat ly nie. Open ons oë vir u teenwoordigheid, laat ons in die geloof volhard en laat ons verhouding met U groei. Amen