Verbonde: Hemelse harmonie? - 25 November 2025
Louise Gevers
Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. Genesis 37:3, 1983-vertaling
Selfs aartsvaders maak foute. Het jy al ooit nagedink oor families en hulle daaglikse lewe in bybelse tye? Hoe was dit om hoofsaaklik oral heen te moes stap, of wanneer jy op reis gaan, op 'n donkie te ry? Wie moes boodskappe gaan aflewer of pizzas huis toe bring?
Families het gewoonlik saam gebly en mekaar ondersteun. Die psalmdigter skryf: "Soos pyle in die hand van 'n krygsman, so is seuns wat gebore is toe hulle vader nog jonk was. Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het! (Psalm 127:4-5a)
Jakob was definitief geseën met 'n vol pylkoker, maar die lewe was deurmekaar. Soms dink ons dit was vir families in daardie tye makliker om bymekaar te bly, maar inderwaarheid was dit baie gekompliseerd om kinders van verskillende vroue plus nog die vroue almal onder een dak te hê. Ongetwyfeld was daar altyd 'n kans vir familiedrama.
In enige gesin is daar daagliks 'n kans vir wedywering tussen broers en susters en 'n stryery kan binne minute uitbreek. Dan is daar nog die frustrasie met ouers wat "nie verstaan nie". Dit was nie anders vir Jakob en sy twaalf seuns nie. In Jakob se geval, het 'n ander probleem egter kop uitgesteek – voortrekkery – wat jaloesie en afguns laat ontstaan het. Dit het hartseer en skuldgevoelens vir hulle almal tot gevolg gehad. Ons teksvers het ons reeds bewus gemaak van hoe onverstandig Jakob was om Josef die appel van sy oog te maak.
Josef was reeds ongewild onder sy broers toe hy "slegte stories oor [hulle] by hulle pa aangedra [het]" (Genesis 37:2), maar toe Jakob boonop vir Josef 'n lang, kleurvolle kleed gegee het, was sy ander seuns woedend. Die gevolg was dat "toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle 'n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie." (Genesis 37:4)
Deur Josef te stuur om te gaan kyk wat die broers doen, het Jakob hierdie gesindheid vererger en 'n onvolwasse, trotse Josef het hulle weersin in hom groter gemaak deur hulle te vertel van drome wat hy gehad het waar sy hele familie voor hom neerbuig. Selfs "sy pa [het] hom hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir 'n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?” (Genesis 37:10)
Soos ons weet, is dit na baie onrus, woede en vrees, presies wat hulle jare later in Egipte gedoen het waar Josef die farao se tweede in bevel was. Hulle sameswering om hom dood te maak, die uiteindelike verkoop van Josef as 'n slaaf en die leuen wat hulle vir hulle pa daaroor vertel het, het begin om sy tol te eis. Die gesin was hartseer oor Josef en skuldgevoelens het die broers verteer. Jakob het baie duur betaal vir sy voortrekkery van Josef, en sy seuns vir die manier hoe hulle Josef behandel het. Josef het ook swaargekry, eers as slaaf en toe onregverdig vir baie jare in 'n vreemde tronk – maar God se hand het deur dit alles op hom gerus.
God het die situasie herstel.
Josef het uit die tronk na mag beweeg, en hy was in staat om Egipte en sy familie van hongersnood te red. Josef kon God se groter plan sien, en hy het besef dat "God [hom] voor [hulle] uit gestuur [het] om lewens te red...." (Genesis 45:5-7) Josef het sy broers vergewe en vir hulle en sy pa voorsien. "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het." (Genesis 50:20)
Gebed: Liewe Vader, gesinslewe is selde maklik want ons is sondige mense, maar U is liefde. Dankie vir u genade wat ons in staat stel om mekaar in alle omstandighede lief te hê en te vergewe. Amen