Weet waar om krag te soek: Stewige wortels - 9 Desember 2025
Andrea Sieberhagen
… dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle saam met al die gelowiges begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Efesiërs 3:17-18, 1983-vertaling
As Christus in jou hart woon beteken dit dat Hy jou bron van krag is. As jy dan so by die regte kragbron van geloof ingeprop is moet ander mense die verskil in jou lewe kan sien. Hulle moet die teenwoordigheid van Christus in jou lewe kan aanvoel.
As jy in die liefde gewortel en gegrondves is, anker dit jou stewig en kan geen storm jou ontwortel nie. En in hierdie onvolmaakte wêreld word ons as gelowiges dikwels deur storms geteister. 'n Sterk wind kan jou finansies heeltemal deurmekaar waai, 'n harde bui reën mag die liefde uit jou huwelik wegspoel en 'n weerligstraal mag binne 'n oomblik jou gesondheid wegneem.
Soos 'n boom sal jy net in 'n storm bly staan as jy 'n stewige wortelstelsel het. Dit is wat jou geloof vir jou moet wees. Deur die wind en die reën en die weerligstrale heen moet jy kan vashou aan jou geloof. Geloof wat allesomvattend moet wees. Dit moet geen aspek van jou lewe uitsluit nie, want Christus se liefde is allesomvattend. Dis wyd en ver en hoog en diep. Sonder enige beperkinge. Dit omvou jou heeltemal en beskerm jou teen die storms van die lewe. Met hierdie liefde oral om jou en die geloof in jou hart, kan jy enige krisis te bowe kom.
Gebed:
Mag Christus in my hart kom woon
sodat elkeen wat na my kyk
sal weet hoe ver geloof kan reik
sodat elkeen wat my lewe raak
die verskil sal voel
wat liefde maak.