Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wees anders: Afhanklikes - 21 Januarie 2026

Andrea Sieberhagen
 
"Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Matteus 5:3, 1983-vertaling
 
Ons leef in 'n wêreld waar onafhanklikheid hoog op prys gestel word. Om as 'n onafhanklike persoon beskryf te word, is 'n groot kompliment. Om te oorleef moet jy op jou eie bene kan staan. Jy moet jou eie besluite neem en nie te afhanklik wees van mense rondom jou nie. Jy moet 'n sterk mens wees.
 
Om so te kan funksioneer is sekerlik prysenswaardig, maar in ons geloofslewe moet dit juis die teenoorgestelde wees. Volkome afhanklikheid van God word vereis.
 
Ons moet intens bewus wees dat ons níe onafhanklik van God die lewe kan aanpak nie. Daar word van ons verwag om elke dag in afhanklikheid van Hom te lewe.
 
Die geheim is om elke oggend wanneer ons ons oë oopmaak, die dag wat voor ons lê, in ons hemelse Vader se hande te plaas. Ons moet nog voordat ons die dag begin, alles wat oor ons pad kom in sy hande plaas. Dit beteken dat ons beheer oorgee. Die dag is nie meer in ons eie hande nie.
 
Dit is dikwels vir ons moeilik om te doen, want ons hou tog so baie daarvan om in beheer te wees. Ons glo dat ons self verantwoordelikheid moet neem vir elke scenario wat oor ons pad kom.
 
Dit verg wilskrag om volkome oor te gee.
 
Stap vanoggend by jou deur uit met die wete: God is in beheer en pak die dag aan in afhanklikheid vanHom wat beter weet as jy.
 
Gebed: Hemelse Vader, neem U beheer van my dag. Ek verklaar dat ek volkome afhanklik is van U. Amen
 
Previous article: Wees anders: Vredemakers - 22 Januarie 2026 Prev Next article: Wees anders: Lig vir die wêreld - 20 Januarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.