Vertroue: Ek is 'n ouer Heer - 30 Januarie 2026
Andrea Sieberhagen
Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo! Markus 5:36b, 1983-vertaling
Jesus sien 'n man wat wag vir Hom.
Die man blý wag vir Hom.
Die man val nou op sy knieë neer.
Hy bring sy hart se huil na sy Heer.
O, Meester, ek het 'n kind
met liefde aan my gebind,
maar sy sterf, sy sterf, sy sterf.
Ek is 'n ouer Heer.
Ek buig voor u voete neer.
Ek bring my kind se nood
want u almag is groot.
Jesus sien die man se nood.
Sy vriende kom sê sy kind is dood.
Te laat jou kind is dood.
Jesus sê: hou jy net aan met glo
en kyk Ek open gou haar oë!
Jesus gaan na die man se huis.
Mense huil in daardie huis.
Jesus sê: Sy leef, sy slaap net sag.
Sy woorde laat die mense lag.
Jesus sê: Talita, koem!
Dogtertjie staan op
Jaïrus word stil voor God.
Ek is 'n ouer Heer
Ek bring aan u die eer
U het my nood verstaan
My kind het opgestaan.
In Markus 5 vind ons diè welbekende verhaal van Jaïrus se dogtertjie. 'n Hartseer verhaal van 'n pa besorg oor sy kind. Hoe baie van ons as ouers kan nie identifiseer met hierdie vader in sy nood nie? Omstandighede mag verskil, maar wanneer 'n mens jou bekommer oor 'n kind sny dit altyd diep.
As ons egter ons nood, enige nood, aan Jesus se voete neerlê spreek Jesus se woorde in Markus 5:36 ook hard en duidelik tot ons vandag. Dit klink amper te maklik. “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo.” As ons hieraan kan vashou verstaan ons iets van ware geloof.
Gebed: Hemelse Vader, ek weet U ken reeds my nood. Vandag kom lê ek my diepste nood voor u voete neer en los dit by U. Amen