Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se liefde: Julle is die sout vir die aarde - 5 Februarie 2026

Lauren Appolis 

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie ... Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”, Matteus 5:13-16, 1983-vertaling
 
Daar is niks erger as 'n gereg sonder sout nie. Ek het oor die jare geleer dat dit nie saak maak hoeveel kruie of spoggerige bestanddele jy byvoeg nie – as die sout ontbreek gaan die gereg maar baie smaakloos wees. Nie net dit nie, maar die geure van al die ander wonderlike bestanddele gaan nie ten volle tot hulle reg kom nie.
 
Die doel van sout is tweeledig: geur en preservering. Sonder om dit nou in diepte te bespreek, sout verbeter kos deur bitterheid te voorkom en dit soeter te maak. Wat 'n ongelooflike mineraal met soveel transformerende krag!
 
God se Woord is vol liefdesbriewe aan ons – herinneringe aan hoe waardevol ons vir Hom is. Deur ons die "sout vir die aarde" te noem, herinner Jesus ons aan net hoe belangrik Hy ons ag. Hy sê dat ons, sy volgelinge, die wêreld kan beïnvloed – deur bitterheid teen te werk en die "soet smaak" van Jesus uit te bring.
 
Dink daaraan: wanneer iets goed smaak, wil ons meer daarvan hê. Wanneer 'n gereg ryk en geurvol is, geniet ons dit. Jesus sê dat in hierdie wêreld wat soms vaal en bitter kan voel dit ons taak is om ander se begeerte na Hom, te verdiep. Wat 'n eer! Wat 'n verantwoordelikheid!
 
Liewe vriende, om na te dink oor God se groot liefde, word 'n mens daaraan herinner dat ons identiteit in hierdie liefde geanker is en dat dit ons in staat stel om sy koninkryk hier op aarde te bevorder. Jesus sê nie ons kan die sout vir die aarde wees nie. Hy sê ons is. Teenwoordige tyd.
 
Jy is invloedryk. Jy is anders. Jy word benodig.
 
Jesus waarsku ons dat sout kan verslaan wanneer dit met onsuiwerhede besmet word. Net so leef ons in 'n wêreld vol invloede wat ons getuienis, as ons nie in Christus geanker is nie, kan verswak.
 
So, laat ons in Hom geanker bly en sy liefde toelaat om ons denke te vernuwe sodat ons nie aan die wêreld gelyk word nie. Mag ons eerder so "vol sout" leef dat diegene om ons 'n beter smaak vir die dinge van God sal ontwikkel.
 
Gebed: Hemelse Vader, wat 'n eer is dit nie dat U ons liefhet en na waarde ag nie. Help my om naby U te leef sodat ek nooit sal vergeet wie ek in U is nie. Help my om deur my lewe u liefde uit te straal en ander die weg na U te wys. Amen
 
Previous article: God se liefde: Die vrug is soet - 6 Februarie 2027 Prev Next article: God se liefde: Op jou naam geroep, jy is Syne - 4 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.