Geanker in Hom: Liefde wat voorsien - 10 Februarie 2026
Lauren Appolis
Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. 1 Petrus 5:6-7, 1983-vertaling
Voor ek na die Desember vakansie moes terugkeer werk toe, het angs my oorval. Terwyl ek begin voorberei het vir die week wat wag, het my gedagtes op loop gesit oor alles wat ek moet hanteer – my voltydse werk asook al die eise wat vrou- en ma-wees aan my stel. Ek was klaar angstig oor 'n jaar wat nog nie eers begin het nie.
Op die eerste dag terug by die werk het ek die Here gevra om die angs weg te neem. Instede daarvan, het die Heilige Gees op 'n besondere manier my iets gegee om oor na te dink. Daardie oggend het 'n kollega ons vergadering met 1 Petrus 5:6-7 geopen: "Onderwerp julle daarom in nederigheid ..."; "die kragtige hand van God ..."; "Werp al julle bekommernisse op Hom ..."
Die Heilige Gees het my oortuig om my in nederigheid te onderwerp. Ek het besef dat angs dikwels voortspruit uit my oortuiging dat ek alles self moet doen – terwyl ek diep binne in my weet dat ek nie kan nie. Ons doen dikwels paniekerig die berekenings, maar steeds klop die som nie. Daar is nie genoeg tyd, energie of hulpbronne om aan al die behoeftes van ons werk, huwelike, gesinne, vriendskappe, verantwoordelikhede te beantwoord nie.
As ons glo dat alles van onsself afhang, waar laat dit God? Is Hy nie die Bron nie – die Alfa en die Omega, die Een wat in elke behoefte ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom nie? Of is ons so selfstandig dat ons God buite rekening laat wat die bestuur van ons daaglikse lewe betref?
Die Bybel vertel van verskeie kere toe daar 'n feitlik onmoontlike behoefte was, tog het Jesus net een ding gevra: genoeg nederigheid om die bietjie wat daar was na Hom toe te bring. Daar was nie genoeg wyn nie, tog het water in wyn verander (Johannes 2:1-11). Daar was nie genoeg kos nie, tog het vyf brode en twee visse duisende gevoed (Matteus 14:13-21). Die vrou met die erdekannetjie olie het nie genoeg gehad nie – maar toe sy gehoorsaam was met dit wat sy gehad het, kon sy aanhou olie skink (2 Konings 4:2-7).
As jy vandag angstig is, is dit miskien tyd om na binne te kyk en jouself te vra of die vrees sy ontstaan het in jou poging om met jou eie bietjie krag aan 'n groot behoefte te wil beantwoord. Kom ons gee aan God sy regmatige plek as Voorsiener en Wonderwerker terug, en verootmoedig ons voor die Een wat steeds in oorvloed voorsien.
Neem die bietjie wat jy het na God – jou "nie genoeg" energie, finansies, kennis, verhoudings en hulpbronne. Hy wil jou graag wys wat Hy kan doen.
Gebed: Hemelse Vader, wanneer angs en bekommernis my oorval, help my om te onthou dat U in al my behoeftes voorsien. Help my om al u wonderwerke te onthou en vertroos my met die wete dat U, wat steeds dieselfde God is, dit ook in my lewe kan doen. Amen