Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die hart: Hardloop na die Vader - 19 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. Hebreërs 12:11, 1983-vertaling
 
Die grootmaak van my tweejarige dogtertjie laat my dikwels in totale verwondering. Dit is vir my wonderlik om te sien hoe sy na die wêreld kyk, leer om dit te navigeer en hoe sy stadig maar seker haar plek daarin ontdek. Haar huidige vlak van emosionele ontwikkeling boei my verskriklik – en dit herinner my dikwels aan ons verhouding met God.
 
Dissipline en emosionele beheer is tans 'n daaglikse realiteit in ons huis. Dit is harde werk, maar konsekwentheid is belangrik as ons later die vrugte wil pluk. Die afgelope ruk veroorsaak die woordjie "nee" gereeld 'n katastrofe. Sy het sterk wilskrag en probeer hard om die grense te verskuif – veral wanneer iets wat sy wil hê, weerhou word. "Niks meer sjokolade voor bedtyd nie." "Jy kan nie daarmee speel nie, jy gaan seerkry." "Jy kan nie buite speel wanneer dit donker is nie."
 
Elkeen van hierdie oomblikke lei tot baie emosie en hartverskeurende protes. Elke keer, terwyl ek toekyk hoe sy met haar teleurstelling worstel, is dit moeilik om te hou by die grense wat daargestel is, maar ek bly ferm – nie omdat ek haar wil ontstel nie, maar omdat ek weet wat sy nie weet nie. Ek kan die gevaar sien wat sy nog nie begryp nie. So ek sit maar by haar terwyl die emosies hulleself uitwoed, ek vertroos haar en saam wag ons vir die oomblik om verby te gaan.
 
Dit herinner my baie aan hoe God, ons Vader, ons hanteer.
 
Daar is tye wanneer Hy nee sê vir planne wat ons met soveel sekerheid gedink reg is. Nie omdat Hy die goeie van ons wil weerhou nie, maar omdat Hy kan sien wat wag. Wat vir ons soos 'n verlies voel, is dikwels in sy hande beskerming. Liefde voel soms soos 'n verbod.
 
Wat my die diepste tref is wanneer my dogtertjie ontsteld is, hardloop sy na ons toe – die einste mense wat nee gesê het. Sy soek vertroosting by die bron van haar teleurstelling. As volwassenes doen ons dikwels die teenoorgestelde. Wanneer die lewe ons seermaak, of God se antwoord nie is wat ons gehoop het dit sou wees nie, onttrek ons eerder as om nader te kom.
 
Jesus leer ons om soos die kindertjies te word. (Matteus 18:3) Miskien beteken dit om God genoeg te vertrou om na Hom toe te hardloop, selfs wanneer ons nie sy "nee" verstaan nie – om ons teleurstellings na Hom toe te bring en te glo dat in sy hart Hy altyd die goeie vir ons verlang.
 
Gebed: Vader, wanneer dinge nie gebeur soos ek gehoop het nie, help my om U te vertrou. Leer my om na U toe te hardloop – selfs wanneer ek teleurgesteld of verward is – in die wete dat U my liefhet en altyd die beste vir my wil hê. Amen
Next article: Die hart: Moenie omkyk nie - 18 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.