Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dankbaarheid vir die kruis – “Dit is volbring” - 2 April 2026

Ewald Schmidt

 
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.  Johannes 19:28-30, 1983-vertaling
 
More is Goeie Vrydag. Ons staan weer in geloof aan die voete van die kruis van Jesus. Ons hoor Jesus se laaste woorde: “Dit is volbring.” Dis nie net drie mooi woorde nie – dis woorde wat jou hele lewe verander.
 
In vandag se teks hoor ons hoe alles in God se beplanning om die mensdom te red tot 'n punt kom. Jesus weet presies wat aan die gebeur is, en hoe groot die oomblik in die geskiedenis is. Niks loop skeef nie. Selfs wanneer Hy sê: “Ek is dors,” is dit deel van God se plan, die vervulling van ‘n profesie in die Skrif. Tot die heel laaste oomblik bly Hy gehoorsaam aan sy Vader.
 
En dan sê Hy dit: “Dit is volbring.” Nie: “Ek het my bes probeer” nie. Nie: “Dit is amper klaar” nie. Maar: “Dit is volbring.”
 
Die Griekse woord wat hier gebruik word – Tetelestai – is 'n boekhou term wat gebruik is wanneer iemand se skuld ten volle opbetaal is. Daar is niks meer uitstaande nie. Dis wat Jesus aan die kruis vir ons kom doen het. Hy betaal ons skuld by God heeltemal.
 
Ons sukkel soms om dit te glo. Ons dink ons moet nog iets bydra – nog beter wees, nog harder probeer, nog iets bewys. Maar die kruis sê: Dis klaar. Jy kan nie byvoeg by wat Jesus reeds gedoen het nie.
 
Dit verander hoe ons leef. Ons leef nie om God te probeer beïndruk nie. Ons leef nie om sy liefde te verdien nie. Ons leef uit dankbaarheid, omdat ons reeds syne is.
 
Dalk dra jy vandag nog skuldgevoelens in jou rond. Dalk voel jy jy het alweer misluk. Luister weer mooi: “Dit is volbring.” Jou sonde is nie groter as sy genade nie. Jou foute is nie sterker as sy kruis nie. Jesus se werk is genoeg.
 
Goeie Vrydag is vir ons ‘n moeilike dag – maar dis ook vol hoop. Want toe Jesus sy kop laat sak, het Hy nie verloor nie. Hy het klaar gemaak. Die pad na die Vader is oop. Die saak is afgehandel.
 
Mag dankbaarheid vandag jou hart vol maak. Rus in wat Jesus reeds gedoen het. Leef ligter. Leef vryer. Leef as iemand wie se skuld betaal is.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U alles volbring het. Dankie dat ek nie my eie redding hoef te probeer verdien nie. Help my om dit regtig te glo en elke dag uit dankbaarheid vir U te leef. Amen.
 
Previous article: Dankbaar vir die leë graf: Jesus lewe! - 7 April 2026 Prev Next article: Dankbaar vir die Lig wat my lewe verlig - 1 April 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.