Dankbaar vir 'n nuwe identiteit: Ek is 'n kind van God - 8 April 2026
Ewald Schmidt
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Johannes 1:12, 1983-vertaling
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Romeine 8:15, 1983-vertaling
Ons leef in 'n wêreld waar ons identiteit baie belangrik is. Mense soek hulleself in prestasies, verhoudings, besittings en erkenning. Wie is ek? Waar hoort ek tuis? Wat gee my lewe waarde? Baie mense leef met 'n diep onsekerheid, want alles waarop ons ons identiteit bou, kan so gou van ons af weggevat word.
Die evangelie bring 'n antwoord wat alles verander: In Christus kry ek 'n nuwe identiteit. Johannes skryf dat elkeen wat in Jesus glo, die reg ontvang om 'n kind van God te word. Ons is dit nie sommer net vanself nie. Ons word nie outomaties kinders van God bloot omdat ons biologiese lewe by God gekry het nie. Sonde het verwydering tussen God en mense gebring. Ons het eerder soos verlore kinders geleef – ver van die Vader se huis af.
Maar deur Jesus gebeur daar iets radikaal. Deur sy kruis en opstanding word ons nie net vergewe nie; ons word aangeneem. God verklaar nie net dat ons skuld betaal is nie – Hy bring ons huis toe. Hy gee aan ons 'n nuwe naam, 'n nuwe posisie, 'n nuwe familie.
Romeine 8 sê ons het nie 'n gees van slawerny ontvang nie, maar die Gees van aanneming. 'n Slaaf leef uit vrees. 'n Kind leef uit liefde. 'n Slaaf werk vir aanvaarding. 'n Kind lewe vanuit verhouding. Dit is die groot verskil wat die evangelie maak. Ons roep nie meer in benoudheid na 'n God wat ver van ons af is nie; ons mag roep: “Abba, Vader.” Dit is die intieme aanspreekvorm van ‘n kind – die taal van verhouding – ek behoort.
En meer nog: as kinders van God is ons ook erfgename. Ons deel in Christus se erfenis. Alles wat aan Hom behoort, word ons deel – die belofte van die nuwe hemel en nuwe aarde, die heerlikheid wat kom, die ewige lewe. Ons toekoms lê nie in onseker hande nie, maar in die Vader s'n.
Wat beteken dit prakties? Dit beteken my waarde word nie bepaal deur my suksesse of mislukkings nie. Ek is nie eers 'n predikant, ouer, vriend of werknemer nie – ek is eerstens 'n kind van God. Dit is my diepste identiteit. Wanneer skuld my aankla, herinner die evangelie my: jy is aangeneem. Wanneer ek twyfel aan my waarde, fluister die Gees: jy behoort.
Dankbaarheid vir my nuwe identiteit bring rus in my hart. Ek hoef nie meer myself te bewys om aanvaar te word nie. Ek leef nie om God se liefde te verdien nie; ek leef omdat ek dit reeds ontvang het. Ek mag elke dag begin met die wete: Ek het 'n Vader. Ek is syne.
Gebed: Vader, dankie dat ek deur Jesus u kind mag wees. Dankie dat U my aangeneem het en my 'n nuwe identiteit gegee het. Help my om vandag te leef uit hierdie sekerheid – nie as 'n slaaf wat vrees nie, maar as 'n kind wat vertrou. Amen.