Dankbaar dat Jesus my Herder is - 15 April 2026
Ewald Schmidt
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Johannes 10:11, 1983-vertaling
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1, 1983-vertaling
Die beeld van 'n herder is een van die mooiste en mees betekenisvolle beelde in die Bybel. In Psalm 23 bely Dawid sy vertroue: “Die Here is my herder ..." Eeue later neem Jesus daardie woorde op Homself en sê: “Ek is die goeie herder.” Daarmee maak Hy dit persoonlik en konkreet. Die Herder van Psalm 23 het 'n Naam – Jesus Christus.
Skape is afhanklike diere. Hulle is nie sterk of slim nie. Hulle dwaal maklik af. Hulle raak paniekerig. Hulle kan hulself nie verdedig teen roofdiere nie. Dit is nie 'n vleiende beeld van ons as mense nie – maar dit is 'n eerlike een. Ons het leiding nodig. Ons het beskerming nodig. Ons het iemand nodig wat ons terugbring wanneer ons afdwaal.
En dit is presies wat Jesus doen.
Hy lei. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (Psalm 23:2, 1933/1953-vertaling) Soms verstaan ons nie sy pad nie. Soms gaan dit deur donker valleie. Maar selfs daar sê Dawid: “U is by my.” Die teenwoordigheid van die Herder is belangriker as die gemak van die pad.
Hy beskerm. Jesus sê die goeie Herder lê sy lewe af vir die skape. Dit het Hy letterlik gedoen aan die kruis. Hy het tussen ons en die oordeel van God kom staan. Hy is nie ‘n huurling nie, maar 'n Herder wat Homself gee. As die grootste vyand – die dood – ons nie kon verslind nie omdat Hy ingegryp het, hoef ons nie in vrees te leef nie.
Hy soek. Wanneer 'n skaap afdwaal, los die herder nie net die trop en sê: “Jammer vir hom” nie. Hy gaan soek totdat hy hom kry. Hoeveel keer het die Here ons nie al teruggebring nie? Soms deur 'n preek, soms deur 'n beproewing, soms deur 'n sagte stem in ons gewete. Hy trek ons telkens weer nader uit liefde.
Dankbaarheid dat Jesus my Herder is, bring rus in 'n onrustige wêreld. Ek hoef nie self die pad van my lewe uit te werk asof alles van my afhang nie. Ek mag volg. Ek mag vertrou. Selfs wanneer ek deur 'n dal van doodskaduwee gaan, is ek nie alleen nie.
Om Hom as Herder te hê, beteken ek behoort aan Hom. Ek is nie 'n verdwaalde dier sonder eienaar nie. Ek is syne – gekoop met sy bloed, gedra op sy skouers, gelei deur sy hand.
Gebed: Here Jesus, dankie dat U my goeie Herder is. Dankie dat U my lei, beskerm en terugbring wanneer ek afdwaal. Help my om u stem te herken en U getrou te volg, met vertroue in elke seisoen van my lewe. Amen.