Staan sterk in gebed - 21 Mei 2026
Imogen Campbell
Hiskia het toe voor die Here gebid en gesê: “Here, God van Israel wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. Draai u oor na my, Here, en luister! Here, maak u oë oop en kyk! Hoor die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! 2 Konings 19:15-16, 2020-vertaling
Koning Hiskia het 'n hart vir God gehad, en nadat sy eie vader se heerskappy vol afgode tot 'n einde gekom het, het hy die troon bestyg en veranderings aangebring – ten gunste van God. Die afgode is verwyder en die koning self het die wette wat God aan Moses gegee het, onderhou. God was by hom en Hiskia het sukses behaal in feitlik alles wat hy aangepak het.
In daardie tyd is daar vir die besit van die omgliggende gebiede geveg. Weer eens was Jerusalem in die spervuur. Jerusalem, die stad waar God gekies het om sy Naam te vestig, was dikwels die fokuspunt van die konflik. Die aartsvyand van die lewende God wil altyd sy hande daarop lê. En hy gebruik niksvermoedende mense om sy vuil werk te doen.
Soos gewoonlik was 'n magtige leër in 'n ander deel van die wêreld besig om vir 'n aanval voor te berei. Die duiwel wou dit so hê. Gou het koning Sanherib van Assirië sy leër gestuur.
Sanherib se bevelvoerder het met die mense op die stadsmure van Jerusalem in Judees gepraat sodat hulle kon besef hoe verskriklik die Assiriërs is. Dit het die harte van die mense laat beef. Die Assiriër het egter 'n groot fout begaan – die bevelvoerder het die God van Israel belaster.
Nadat 'n gelowige koning Hiskia in die tempel van God in gebed neergekniel het, het die Here self 'n boodskap deur Jesaja, die seun van Amos, gestuur. God het die koning verseker dat sy gebede rakende Sanherib, die koning van Assirië, gehoor is en Hiskia het besef dat God teen daardie nasie sou optree. "Ja, uit Jerusalem sal wat oorgebly het, uitspruit, uit die berg Sion dit wat ontkom het. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen. ... ‘Ek sal hierdie stad afskerm om dit te red, om my ontwil en ter wille van Dawid, my dienskneg." (2 Konings 19:31,34)
Daardie nag het die engel van die Here deur die vyandelike kamp getrek en 185 000 Assiriërs dood agtergelaat sonder dat enigiemand in Jerusalem 'n vinger gelig het. Moet nooit God se verlossing onderskat nie.
So seker as wat die son elke oggend opkom, beleef elke gelowige moeilike tye. Ek het al gesien hoe dit in die lewens van diegene wat God liefhet keer op keer gebeur. Hoe verblydend is dit nie om te weet dat so seker as wat die storms sal kom, God weet hoe om sy gelowige kinders te verlos.
Gebed: Almagtige God, U is wonderbaar. Ons hou daarvan om in die Bybel van u wonders, verheerlikking en oorwinnings te lees. Herinner ons altyd daaraan wanneer die donker tye kom. Amen