Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Val voor sy voete neer - 25 Mei 2026

 Imogen Campbell
 
Een van die leiers van die sinagoge, met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” Markus 5:22-23, 2020-vertaling
 
In daardie dae was om voor iemand se voete neer te val, onder andere, 'n teken van nederigheid en 'n erkenning van die gesag van die een aan wie jy onderdanigheid bewys.
 
Ons lees in ons teksvers dat 'n groot behoefte hierdie leier van die sinagoge gedryf het na 'n man wat groot wonderwerke gedoen het. Hy het gelowig en met ernstige woorde gepleit. En Jesus het op daardie geloof gereageer en sy dogter genees.
 
In Lukas 17:15-16 lees ons dat Jesus 10 melaatse mans gesond gemaak het. Slegs een, boonop 'n Samaritaan, het teruggekom en al wat hy kon doen, was om in dankbaarheid voor Jesus se voete neer te val.
 
Die vrou wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely en geglo het dat Jesus haar kan genees, het dieselfde gedoen toe sy besef dat deur sy krag Jesus haar genees het. (Markus 5:33)
 
Verder, toe die apostel Johannes op die eiland Patmos die opgestane Christus in 'n visioen sien, het hy soos 'n dooie voor sy voete neergeval. (Openbaring 1:17)
 
Wat van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar hare en met duur reukolie gewas het? Daardie vrou het besef met wie sy te doene gehad het. Die Bybel sê dat sy agter hom gestaan en by sy voete gehuil het. Toe het sy begin om Jesus se voete met haar trane nat te maak, met haar haar hare af te droog, hulle te soen en toe uiteindelik die reukolie oor hulle uitgegiet. (Lukas 7:36-50)
 
Die aand van dié gebeure het Jesus by Simon, 'n Fariseër, se huis gaan eet. Alhoewel hy 'n man met posisie in godsdienstige kringe was, het hy nie eers water vir Jesus se voete verskaf nie – 'n standaard hoflikheidsbewys destyds. Dit is in sterk teenstelling met die vrou wat geen posisie in godsdienstige kringe gehad het nie en wie se sedes boonop bevraagteken kon word.
 
Uit hierdie weergawes blyk dit dat diegene wat hulle behoeftes erken het en genesing en vergifnis van Jesus ontvang het, se enigste manier om te reageer was aan die voete van hulle Meester. En tog, met Simon, die Fariseër vind ons egter die omgekeerde – iemand binne die godsdienstige stelsel wat ietwat ambivalent voorkom.
 
Hoeveel het jy Jesus lief en vereer jy Hom? Buig jy voor sy voete in nederigheid of is jou hart verhard deur die reëls van godsdienstige tradisies? Jy weet hoe om die "regte ding" te doen, maar jy vind skaars tyd om te bid en sy Woord te lees vir die nodige leiding. Dit is vir my 'n uitdaging. Wat van jou?
 
Gebed: Here, help ons om u gesag en heerlikheid te herken. Gee dat ons met blydskap voor u voete sal neerval en U sal dien. Amen
Next article: Staan op die Woord - 22 Mei 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.