Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ontmoeting met Jesus - 5 Junie 2026

Ben Fourie
 
Hy het op die grond geval en 'n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?" "Wie is U Here" vra hy toe. "Ek is Jesus", antwoord Hy. Handelinge 9:4-5a, 1983-vertaling
 
Wanneer daar onderhoude met bekende of beroemde mense gevoer word, is een van die vrae dikwels watter persoon uit die geskiedenis hulle graag sal wil ontmoet. Dit is nogal baie interessant om te hoor wie hulle kies. Sommige kies politieke figure uit die geskiedenis, ander weer 'n beroemde wetenskaplike. Nog ander kies 'n musieklegende, 'n beroemde filmster of sportlegende.
 
Toe ek vir myself die vraag vra, het ek dadelik aan Jesus gedink, maar gou besef dat dit nie vir my 'n goeie keuse sou wees nie. As ek Jesus nou fisies moet ontmoet, sal dit in die gestalte van die historiese Jesus van 2000 jaar gelede wees of sal dit die Jesus van my Kinderbybel prentjie wees? Dalk die Een wat in Openbaring uitgebeeld word? Vir 'n aangesig tot aangesig ontmoeting sal ek liewers wil wag totdat ek Hom eendag in sy hemelwoning ontmoet.
 
Vir Saul was 'n ontmoeting met Jesus seker die heel laaste ding wat hy verwag of begeer het. Hy was immers die groot vervolger van Jesus se kerk. Toe dit wel plaasvind, het hy dadelik geweet dat hy hier met die Here te doen het, maar tog was hy ook totaal onseker wat dit beteken. “Wie is U Here” vra hy. “Ek is Jesus”, kom die antwoord. Niks verder was nodig nie. Paulus het onmiddellik geweet wie dit is wat hom hier op die pad na Damaskus kom ontmoet het.
 
Hierdie een besondere ontmoeting het nie net Paulus se lewe radikaal verander nie, dit het ook 'n geweldige groot invloed op die groei van die kerk van Jesus in die wêreld gehad. Ons ontmoeting met Jesus is dalk nie nou al van aangesig tot aangesig, of deur 'n lig wat uit die hemel skyn nie, maar dit keer ook ons lewens radikaal om en help om die evangelie in die wêreld sigbaar te maak.
 
Gebed: Here Jesus, baie dankie dat U van u kant af, soos met Paulus, ook daarna gesoek het om my te ontmoet. Amen

 

Next article: Gryper of gewer - 4 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.