Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoop op God - 10 Junie 2026

Ben Fourie
 
Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop. Psalm 39:8, 1983-vertaling
 
'n Dominee van die gemeente waar ons lidmate is, het 'n baie goeie preek oor hoop gehad. Daardie Sondagmiddag luister ek op RSG na Nic de Jager se musiekprogram “Nic se Goed”, wat ongelukkig nou ook tot 'n einde gekom het. Hy speel 'n gedeelte uit die Requiem van Verdi en vertaal 'n reël daaruit.
 
Later in die dag het ek op die internet die oorspronklike woorde asook die Engelse vertaling daarvan gekry. Kortliks kom dit op die volgende neer: “U kwytskelding van die sonde van Maria Magdalena en die misdadiger aan die kruis, het ook vir my hoop gebring.” Dit het my baie laat dink aan wat hoop werklik is.
 
Sonder hoop raak die lewe onleefbaar. Sonder hoop val mense in die dieptes van depressie. Die digter van Psalm 39 het ook op moedverloor se vlakte beland, maar nie sommer net oor iets uit die daaglikse lewe nie. Sy gevoel van sonder hoop te wees lê veel dieper.
 
Daarom die woorde van ons teks “Is daar nog hoop vir my, Here?” Hy beleef 'n bestaanskrisis, 'n vraag na die sin van die lewe. In verse ses tot sewe kom hy voor die feit te staan dat ons sterflik is: “Kyk, U het bepaal dat my dae min sal wees, in u oë is my lewensduur byna niks. Ag, alle mense is maar verganklik. Die mens leef soos in 'n droom en hy sloof hom af vir niks. Hy gaar op, maar weet nie wie sal dit kry nie”.
 
Sy vraag is eintlik of die lewe nog die moeite werd is. Dan kry hy die insig: “U is my enigste hoop.” Hierdie hoop wat die lewe sinvol maak kom ook na vore in die woorde uit die Requiem. As Jesus die sondige Maria Magdalena en die misdadiger kon vergewe, hoekom nie ook vir my nie? Om deur God vergewe te word, gee sin aan die lewe en maak alles die moeite werd. Hy is waarlik ons enigste hoop.
 
Gebed: Dankie dat ek nie my hoop op menslike bronne hoef te vestig nie, maar soos die psalmdigter, net op U alleen. Amen
 
Next article: Vreugde in elke dag - 9 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.